Onse Vader wat in die hemel is, dankie dat ons U so persoonlik mag aanspreek. Dankie ook dat U vir elkeen van ons omgee, nie net vir sekere mense nie.

Hemelse Vader, dit is Jeugmaand. Ons jongmense het uitdagings. Ons jeug het berge wat voor hulle staan; probleme wat hulle elke dag moet trotseer. Daar is baie om op te noem, gelukkig weet U presies waarmee hulle te kampe het.

Daarom wil ek elke jongmens na U toe bring. Dié wat ek ken en ook die massas wat ek nie ken nie. U ken hul sit en hul opstaan.

Ek wil bid dat U hulle sal bewaar van die bose; dat U hulle nuwe krag sal gee. U Woord leer ons dat selfs jongmanne moeg word en struikel, maar Vader, laat hulle tog elke keer weer opstaan.

Ons jongmense soek soms hulp in ander mense of dinge. So baie is verward oor die kaarte wat die lewe hulle gegee het en is desperaat om net te oorleef. Ek dink in die besonder aan hulle wat ons so maklik veroordeel. Ek bid vir vroue vasgevang in prostitusie. Ek bid vir jongmense wat op straat is. Ek bid vir gevangenes, wat foute gemaak het.

Vader, ek bid vir jongmense wat vasgevang is in drank en dwelms. Here wees genadig, bring uitkoms.

U Woord leer ons vir U is alle dinge moontlik. Jesus die sterke Verlosser, kom verlos ons jongmense. Maak hulle vry. Laat U lig hulle lei. Laat Jeugmaand ’n impak op ons jongmense maak. Here, U wil mos. Here, U kan mos. Here, U sal mos. Ons prys U wonderlike Naam.

David Magerman,

Komaggas

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article