Brian Kelvin Briesies,
KATHU
Is die kerk nog die kerk wat mense bymekaar bring vir ‘n erediens om God te loof en prys?
Vir my voel dit in baie kerke is dit die geval dat mense se geld meer werd as die mens se siel is.
In die Bybel is dit duidelik gestel God soek siele en stel nie in weelde belang nie.
Hoekom gehoorsaam sommige kerke dit dan nie?
Hoekom is ons as mens so ongehoorsaam deur dag op dag te sondig?
Het dit deel van ons leefwyse geword deur te sondig, of is dit omdat ons wil sondig en nie die wetgewing van God wil gehoorsaam nie?
As ons wette wat deur en van die regering in die grondwet saamgestel is, kan gehoorsaam, hoekom nie God se wette nie wat duidelik genoeg is om te verstaan?
Wie is meer belangrik: ‘n God wat nie die mens teleurstel nie, of ‘n regering wat min omgee vir sy mense?
Ons moet die alledaagse goed laat staan wat ons onsself mee besig hou, en tyd maak vir God.
God stel dit so: “Laat die kindertjies na my toe kom en verhinder hulle nie.”
Hoekom voel dit vir my dat by party kerke diegene in beheer sommiges van God se kerk verhinder, of hulle uitwerk? Ek weet van mense wat by kerke seergekry het weens ‘n kerkraad wat doen, maak en sê wat hulle wil. Van hulle het met ‘n gebroke hart gesterf.
My Pa stel dit so mooi as hy sê elke huis het sy kruis en moet dit optel.
Elke huis het sy probleme.
Elkeen moet daagliks sy kruis optel, aanstap en aangaan met sy dag-tot-dag-bestaan.
Hoekom het baie van ons nie meer tyd vir ons medemens nie?
Gaan dit oor weelde, of wil ons nie meng met mense wat nie op ons vlak is nie? Leef ons net vir onsself asof daar nie iemand na aan ons is nie? Ag jy jou weelde meer as God se woord? Ek ken baie wat so is.
Daar is enkele mense wat ek ken vir wie geld, weelde en rykdom nie na die kop gegaan het nie.
My Pa sê gereeld: “Jy moet nog doodgaan. Leef soos iemand wat nog moet doodgaan.”
In Godswoord maak hy dit duidelik om skatte in die hemel bymekaar te maak, nie weelde op aarde waar mot en roes dit kan verniel nie.
Baie van ons besef nie hoe kort die lewe is nie.
Ons lewe is elke dag ‘n gejaag na geld en rykdom.
Wanneer wil ons opstaan en iets doen vir ons medemens en gemeenskap?
As jy wel iets doen, doen dit uit jou hart – nie om gesien te word nie.
Die tyd is ryp om ons sondige lewe te laat staan.
Span gedagtes in vir wat op ons wag by die wenpaal van God.
Ek glo God is ‘n regverdige God wat omgee vir ons almal.
Dit maak nie saak wie of wat jy is nie.