Schalk en Therina van Schalkwyk

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

“Ek gaan die Noord-Kaap mis, want dit is my mense: mense wat taai gemaak is deur droogtes, veldbrande en somerhitte wanneer die son dooierus vat hier in die Kalahari.”

Dit is op die lys van dinge wat ds. Schalk van Schalkwyk, voormalige leraar aan die NG kerk Deben, gaan mis wanneer hy en sy vrou Therina na Durbanville verhuis.

“Deben se strate met sy donkies, perde, bokke en skape. Vir baie ’n frustrasie, vir my ’n wonderlike ervaring om drie jaar lank soos ’n boer te kon voel, maar met geen verantwoordelikheid nie. Ek gaan die landelike omgewing beslis mis,” sê hy.

Soggens, by die agterdeur, kon hy sy dag met ’n pragtige sonsopkoms begin, en saans by die voordeur dit met ’n pragtige sonsondergang afsluit.

Van Schalkwyk, ’n gebore Vrystater, het op ’n plaas in die Boshof-distrik grootgeword en sy skooljare aan die Hoërskool Boshof deurgebring. As student het hy vir drie jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer, en sy studie aan die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi. Daarna was hy twee jaar lank ’n dienspligkapelaan in Voortrekkerhoogte.

Hy het sy bediening in 1982 by die NG kerk Meyerton-Oos begin, toe die egpaar se oudste seun, Theo, net ’n paar dae oud was. Later het Leanie en Frans hul opwagting gemaak, en in 1997 het die gesin na Zastron verhuis.

In 1998 het ’n standplaasruiling tussen hom en Coenie Jacobs, toe leraar in Kathu, plaasgevind. Hoewel nuut, was die medeleraarskap vir hom verrykend.

In 2016, ’n tydperk van baie afbetalings by myne, het die gemeente van Deben versoek dat hulle ’n derde van die tyd van ’n leraar by Kathu wil uitkoop aangesien hulle nie ’n leraar kon bekostig nie. Van Schalkwyk, wat ’n sagte plekkie vir Deben ontwikkel het, was dadelik bereid om te gaan en het met sy bediening daar op 1 Mei 2017 begin. Met sy aftrede in Februarie 2020 is hy na Deben beroep vir ’n driejaarkontrak, wat nou ten einde gekom het.

In die Wes-Kaap gaan Therina haar sielkundepraktyk voortsit.

Van Schalkwyk sê hy is “nog nie gereed om op die stoep te sit nie.”

“Ek sal nie ’n goeie ‘huisman’ uitmaak nie – daarom sal ek ore en oë wawyd oophou om te sien watter geleenthede op my pad kom. Ek sal graag by ’n diens-aksie of gemeen­skaps­projek betrokke wil wees. Ek geniet dit om te plant en hoop om dit in die Kaap te beoefen,” sê hy.

Die egpaar se een seun, ’n skoondogter en twee kleinseuns bly in Kathu agter.

“Dit gaan seker ons grootste gemis wees. Gelukkig woon ons dogter en haar man in die Kaap en ons ander seun in Stellenbosch.”

  • Van Schalkwyk het sedert September 2021 gereeld ’n Lewende Water-rubriek vir NoordkaapBulletin gelewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article