Die polisie het steeds geen deurbraak gemaak nie in die moord op die vrou wat as “tannie Woollies” bekend was.

Meer as ’n week nadat Judith Redelinghuys (71) se lyk in die swembad by haar huis in ’n gegoede woonkompleks langs die rivier in Upington aangetref is, is niemand nog aangekeer nie.

Judith Redelinghuys

Judith Redelinghuys. Foto: Verskaf

Volgens sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, het die weduwee se dogter, Leanne Arnon, op 1Julie omstreeks 13:00 op haar lyk afgekom. Haar hande was agter haar rug vasgebind.

Masegela sê Arnon het ondersoek gaan instel nadat haar ma nie haar oproepe beantwoord het nie.

Daar is geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie en in dié stadium word slegs Redelinghuys se selfoon en handsak vermis, sê Masegela.

Redelinghuys was van 1993 tot 2012 die eienaar van die Woolworths-fran­chise in Upington en was ook van 1972 tot 1989 mede-eienaar van die Coca-Cola-botteleringsaanleg hier.

Redelinghuys het veral ’n groot bydrae tot liefdadigheid in die omgewing gelewer.

Die skrywer Anzil Kulsen, ook ’n inwoner van Upington, het haar afgryse uitgespreek en het gesê sy is diep geskok.

“Ek sal haar altyd as tannie Woollies onthou. Toe ek nog by Old Mutual in die dorp gewerk het, het sy altyd haar parkeergeld by my kom betaal.

“Sy was so nederig, ek het net altyd gedink sy is ’n werknemer by Woolworths en het nooit besef sy is die eienaar nie.”

Kulsen sê die misdaad raak waansinnig.

“ ’n Mens is bang om in jou eie huis alleen te wees, bang om in die veld te stap, vrees vir jou vriende en familie (se veiligheid) op afgeleë plase.”

Arnold Hanekom, oudhoof van die Laerskool Op die Voorpos in Upington, beskryf Redelinghuys as ’n besonderse mens.

“Sy was ’n absolute steunpilaar deurgaans en ’n wonderlike vrou om mee saam te kon werk.”

Nanze Els, ’n inwoner en vriendin, sê sy is erg geskok.

“Ek is seker die een wat dit aan haar gedoen het, het haar nie geken nie. Sy was ’n hand wat gegee het, maar daardie hand is nou afgekap.”

Redelinghuys word ook oorleef deur haar skoonseun, Jakov Arnon, en kleinkinders.

Die polisie versoek enigeen met inligting om konst. Vanessa van der Westhuizen by 082-495-4615 of 054-337-3400 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.