’n Onvergeetlike ervaring het twee oudrugbyspelers van die Noordwes-Kaap (NWK) en Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) te beurt geval met ’n uitnodiging van die Westelike Provinsie Rugby-unie (WPRU) om die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-wedstryd op 8 Februarie tussen die Stormers en die Blou Bulle op die DHL-stadion in Kaapstad by te woon.
Die besondere geleentheid vir Deen “Tonna” Mouton (85) en Christiaan “Boetie Kahn” Oor (80) is aan die rol gesit deur Peter Jooste van Tygerberg- en Saru-rugby-faam, en destyds van Kenhardt se wêreld, in samewerking met Graham Abrahams van SuperSport.
Die twee legendes is deur Jesse Clarke vergesel, die laaste NWK-kaptein van die 1990-span wat in die SA Beker-halfeindstryd teen Boland te staan gekom het, en Lionel Losper, wat die spanbestuurder was.
Vir hierdie oud-rugbyspelers, wat soms in baie moeilike omstandighede rugby moes speel en by geleenthede uitkom, was dit ’n heuglike ervaring. So moes Mouton in die sestigerjare saam met sy spanmaats in ’n vragmotor ry om rugby te gaan speel.
Tydens hul onlangse naweek in Kaapstad het hulle in dieselfde hotel naby die V&A Waterfront as die Blou Bulle gebly.
Hier het hulle kennis gemaak met die Springbok-heelagter Willie le Roux, Springbok-skrumskakel Ambrose Papier en Blou Bul-slot Cobus Wiese – broer van die Springbok-agsteman Jasper.
Die Wiese-broers het in Upington grootgeword en skoolgegaan.
Die vier Noord-Kapenaars is ook aan die president van Saru, Mark Alexander, voorgestel.
“Ek was ontsettend opgewonde toe mnr. Jooste my gebel en my meegedeel het wat hul planne vir ons legends is,” vertel Hilton Oor, ’n familielid van Oor.
“Insiggewend, wonderlik en onvergeetlik was ons ervaring in Kaapstad”, sê Losper.
“Ons salueer ons oudste legends vir hul dapperheid en lojale toegewydheid aan die pragtige spel rugby wat soveel opwinding en prestasies oor die dekades aan ons gemeenskap verskaf het”, aldus ’n plasing van ’n rugbyondersteuner van Upington op X.
– Nick Pretorius


