Terwyl hulle soos ’n gunsteling-storieboekkarakter aangetrek was, het kleuters en onderwysers van die Pikkiebult- Preprimêre Skool in Kakamas weer geesdriftig aan die jaarlikse Wêreld-hardopleesdag deelgeneem.
Dié dag, wat oor die wêreld heen op die eerste Woensdag in Februarie plaasvind, het onder meer ten doel om die waarde van stories lees en aanhoor te beklemtoon.
“Ons wil kinders en ouers bewus maak van die belangrike rol wat stories en lees in ons alledaagse lewe speel.
“Kinders se verbeelding kry vlerke as hulle aangetrek is soos ’n prinses of seerower – hulle leef hulself in die storie in,” vertel Alta Coetzee van Pikkiebult.
Vir die geleentheid is “Miesie Muis se verjaarsdag” uit Bennie Boekwurm vertel lekker stories 2, voorgelees.
Jana Visser van die ATKV-tak Kakamas het die voorlesing behartig.
Kleuters kon ook op dié dag ’n R5-skenking gee om nuwe boeke vir die biblioteek aan te koop.
Coetzee sê die kinders was baie opgewonde om hul onderwysers en maats in allerlei kostuums te sien.
“Tydens buitespel het hulle omtrent lekker in hul karakter gespeel.
“Ons het ook ons ouers uitgedaag om meer gereeld vir hul kinders stories voor te lees, aangesien hulle die oggend so baie geniet het.”
- LitWorld, ’n nie-winsgewende beweging wat oor die wêreld heen aktief is, inspireer miljoene om die vreugde van storievertelling te deel, en dit bring boekliefhebbers, opvoeders en lesers van alle ouderdomme bymekaar.
Wêreld-hardopleesdag, wat deur LitWorld begin is, het vanjaar ’n 15de jaar plaasgevind.
“Ons het ons 15 jaar gelede voorgeneem om ’n dag te skep wat die gedeelde vreugde van storievertelling vier, terwyl ons ’n lig skyn op die feit dat geletterdheid ’n fundamentele mensereg is,” sê Caitlin Cassaro, uitvoerende direkteur van LitWorld.
Cassaro sê stories het die krag om gemeenskappe te bind, individue te bemagtig en lewenslange leer aan te wakker.
“Elke stem maak saak, en elke storie verdien om gehoor te word.”


