Hoofartikel: Leerproses hou aan ná 12 skooljare

Die vorentoe kyk na 12 skooljare wat voorlê en ’n terugblik op 12 wat verby is.


Die vorentoe kyk na 12 skooljare wat voorlê en ’n terugblik op 12 wat verby is.

Dit som die hoofnuus in vandeesweek se uitgawe van NoordkaapBulletin op.

Duisende blinkoog-gr. 1-leerlinge – blinkoog vir meer as een rede – het op Woensdag 19 Januarie vir hul heel eerste skooldag by laerskole oor die provinsie heen aangemeld.

Met klein lyfies verdwerg in oorgroot skooluniforms, en met voete wat nog nie tuis in die splinternuwe skoolskoene gelyk het nie, het hulle lomperig en onseker met groot tasse en nuwe kosblikke by skole opgedaag.

Hulle het waarskynlik nie toe daaraan gedink dat dit ’n roetine is wat hulle nog tot 2034 sal volg nie. Terug huis toe ná die eerste skooldag was waarskynlik die oorheersende gedagte.

Die matrikulante van 2021, wat in 2009 in hul eerste skoolskoene gestaan het, het verlede week amper-grootmens matriekuitslae in gewone kleredrag ontvang (klere waaroor sekerlik gepeins is: . . . volwasse, maar jonk; in beheer, maar cool . . .)

Vir hulle is die 12 jaar van skoolklere en -skoene verby; so ook die voorskriftelike lewe waar ’n ouer, voog of onderwyser nog ’n redelike sê het.

Wat vir hierdie gr. 1’s van 2009 voorlê, is ook ’n nuwe fase waar hulle moet leer om hul eie heil (soms ook huil) uit te werk en eie (kos)pot te krap.

Tersiêre studies, werksoek, onsekerheid . . . elkeen begin sy grootmenspaadjie sonder die bekende skoolskoene stap.

Hierdie jongmense gaan ongeveer 30 jaar oud wees wanneer vanjaar se gr. 1’s hul 2034-matriekuitslae ontvang. Teen dan, volgens quantumrun.com, sal e-pos spam nie meer bestaan nie en sal die wêreldbevolking uit 8 772 860 000 mense bestaan.

Dit is baie mense om mee skouers te skuur vir ’n plekkie in die son. Die webwerf voorspel dat die werkloosheidsyfer in die land teen 2030 tot 16% sou daal; met ’n 50% waarskynlikheid.

Om daardie plekkie in die son te behou, sal elkeen van die aardbewoners – alle jaargroepe – dringend sy verantwoordelikheid moet besef en ’n positiewe verskil begin maak, hoe klein ook al.

Leer om op te ruim; skoon te maak; heel te maak; beter te maak. Jouself en jou omgewing. ’n Mens is immers nooit te oud om te leer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.