Meer as 80 kinders, van gr. 1 tot gr. 12, wat in ’n sorgsentrum in Barkly-Wes bly, het dringend hulp met skoolwerk nodig.
Dié kinders van Caritas Gemeenskapsfokus se kinder- en jeugsorgsentrum op die Jannie Roux-kampus het nie voldoende ondersteuning met skoolwerk en skooltake nie, en gevolglik presteer hulle nie na wense in die skole wat hulle bywoon nie.
“Hulle het hulp met al die skoolvakke en take nodig. Tans moet hulle op die versorgers of maatskaplike werkers vir ondersteuning hiermee staatmaak. Die gevolg is dat die terapie afgeskeep word.
“Dit is werklik ’n nood. Hierdie kinders se vordering en ontwikkeling is so belangrik, en dit sluit skolastiese ontwikkeling in,” vertel Judith Evans, programbestuurder van maatskaplike dienste en gemeenskapsontwikkeling by Caritas.
“Baie van die kinders voel: As daar niemand is wat my help nie; wat in my belangstel nie, waarom moet ek belangstel?” vertel Evans, wat beklemtoon dat versorgers en maatskaplike werkers se dae reeds vol met hul eie werksverpligtinge is.
Skooltasse duur, tog ’n noodsaaklike item
Carla Botes, waarnemende hoof van die kinder- en jeugsorgsentrum, vertel om elke skoolkwartaal die vereiste skryfbehoeftes vir elke kind volgens sy of haar graad te bekom, ’n geweldige uitdaging is.
Dit sluit spesifieke skrifte volgens graad in, oortrekpapier, voorgeskrewe tipe lêers, sakrekenaars, en die lys gaan aan.
“Dit is nog haalbaar om van hierdie items aan te skaf, maar om boonop vir elke kind ’n behoorlike skooltas in die hande te kry, is baie moeiliker en baie duur,” sê sy.
Ander items wat die kinders gereeld benodig is tydskrifte waaruit prente vir take gesny kan word; klei om modelle van te maak; gekleurde papier; plakkaatpapier of karton; versierings vir die taak soos onder meer blinkers en plakkertjies; en ook ’n verskeidenheid kleurpenne en viltpenne (koki’s).
’n Rekenaar met internetverbinding, asook ’n drukker, is wel vir die kinders in die sentrum beskikbaar.
- Die Caritas Gemeenskapsfokus bestaan reeds meer as 120 jaar en was deur die jare by die ophef van behoeftiges, veral die versorging van verwaarloosde kinders betrokke. Caritas, ’n nie-winsgewende organisasie, het deur die jare in ’n maatskaplike werkorganisasie ontwikkel.
- Besoek die webwerf caritas.org.za om meer uit te vind van die omvattende diens wat deur Caritas gelewer word.
- Enige persoon wat die kinders met skoolwerk en verwante ondersteuning kan help, kan vir Evans by 083-231-6126 bel.


