Leerling mik om vir SA te speel

’n Meisie met vele talente is hoe ’n mens die Hoërskool Postmasburg se Loshé Grobler (15) kan beskryf.


’n Meisie met vele talente is hoe ’n mens die Hoërskool Postmasburg se Loshé Grobler (15) kan beskryf.

Sy het vanjaar van Daniëlskuil na Postmasburg verhuis, en reeds haar nuwe skool op die sportveld trots gemaak.

Loshé Grobler in aksie as hoofdoel. Foto: Erena Oberholzer

Loshé, ’n gr. 9-leerling, het op ’n jong ouderdom al op die netbalbaan uitgeblink en kan eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie.

Sy bestee twee dae per week op die netbalbaan aan fiksheid en drie dae aan tegniek, asook baanwerk.

Sy doen meeste middae kragoefeninge by haar afrigter, Suzaan Kotzé.

Die hulp- en hoofdoelspeler van haar skool se eerste span hoop om eendag professionele netbal te speel.

Haar grootste droom is om vir die Proteaspan te speel. Haar rolmodel is die Suid-Afrikaanse netbalspeler, Maryka Holtzhausen.

“Ek bewonder Maryka se deursettingsvermoë en is mal oor haar netbaltegnieke.

Loshé het vanjaar by die skool se kleuresport-atletiekbyeenkoms rekords in spiesgooi en gewigstoot verbeter.

Op die Dalipo-streekatletiekbyeenkoms het sy drie keer goue medaljes verower en tydens die ZFM-atletiekbyeenkoms ’n rekord in spiesgooi verbeter.

Sy speel ook vir die oërskool Postmasburg se eerste meisieskrieketspan.

Sy sê sy werk nog aan haar boul- en kolfwerk, maar is wel ’n goeie paaltjiewagter en veldwerker.

Verlede jaar is sy as die Hoërskool Daniëlskuil se victrix ludorum aangewys, maar is ook trots dat haar nuwe skool en nuwe klasmaats haar vanjaar tot leerlingraad van haar graad verkies het.

“Dit is vir my ’n groot eer om as nuwe leerling so vertrou te word deur my klasmaats.”

Loshé is die jongste dogter van MW en Aloma Grobler.

You need to be Logged In to leave a comment.