’n Jong Upingtonner is een van die finaliste wat later vandeesmaand teen toneelspelers, drama-geesdriftiges en aspirantdigters gaan meeding om as die wenner van Suid-Afrika se eerste aanlyn dramakompetisie bekroon te word.
Chrizelle Strydom, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Upington (Uppies), het tydens die Covid-19-grendeltyd aan die aanlyn dramakompetisie, Dramaweb SA, deelgeneem.
Die opwindende nasionale aanlyn dramakompetisie word deur die bekende aktrise Ira Blanckenberg en haar man, Waldemar Schultz, aangebied.
Talle talentvolle kinders oor die land heen het deur middel van selfoonvideo’s aan die kompetisie deelgeneem.
Hulle het gedigte en monoloë ingestuur.
Chrizelle is nasionaal as een van die tien finaliste in die afdeling gr. 11 tot gr. 12 aangewys.
Sy het die beoordelaars in haar oudisie en met haar optrede beïndruk, en ’n sertifikaat met platinum status (bo 90%) verwerf.
Hiermee het Chrizelle dus na die eindronde van Dramaweb SA wat op Saterdag 25 Julie via Zoom gehou is, deurgedring. Chrizelle was tweede in die afdeling gr. 11 tot gr. 12.
Riaan Kotze, skoolhoof van die Hoërskool Upington, het Chrizelle geprys vir haar puik prestasie te midde van die eksamen en toetse.
Hy sê die skool is baie trots op haar en wens haar alle sterkte toe.