Zander du Plessis en Sango Xamlashe, wat deur die Griekwas aan die Leeus geleen is, is voorlopig terug in Kimberley.

Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, het Maandag (09/01) gesê die twee sweet in die Diamantstad saam met die Noord-Kapenaars ter voorbereiding van die Curriebeker-reeks.

Du Plessis (22), ’n veelsydige agterspeler, en die 24-jarige Sango Xamlashe (senter) is nie deel van die Leeus se groep wat in Europa toer nie.

“Hulle is voorlopig terug van hul leenoorkoms met die Leeus. Die Leeus kan hulle wel nog terugroep – hulle kan dit nog doen tot drie weke voor die aanvang van die Curriebeker,” sê Bergh.

Xamlashe het die Griekwas in Junie in die Curriebeker-eindstryd teen die Pumas in Kimberley aangevoer. Die span van Mpumalanga het toe met 26 – 19 gewen.

Hoewel die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nog nie die bepalings vir vanjaar se Curriebeker-reeks bekend gemaak het nie, is die verwagting dat die eerste ronde op 11 Maart sal wees.

Ter voorbereiding van die reeks sal die Griekwas ’n paar oefenwedstryde speel.

Hulle kom op 25 Januarie teen die Suidwestelike Distrikte (SWD) in Mosselbaai te staan.

Dit word gevolg deur twee wedstryde in Kimberley, op 17 Februarie teen die Haaie en op 1 Maart teen die Griffons. Hulle hoop om nog ’n vierde oefenwedstryd te speel voor die Curriebeker begin.

Met die uitsondering van Malcolm Jaer (heelagter of vleuel) en die losvoorspeler Hanru Sirgel is daar nie ander spelers in die Griekwa-groep van 38 spelers wat met skete sukkel nie.

Bergh is in sy noppies met die oud-Blitsbok Sako Makata, wat verlede week in Kimberley by die Griekwas aangemeld het.

Makata (24) het die nasionale sewesspan in 17 toernooie in die wêreldreeks verteenwoordig.

“ ’n Mens kan sien hy het sekere vaardighede wat hy by die sewes aangeleer het. Daar is wel sekere dinge van 15’s waaraan hy (Makata) gewoond moet raak, soos posisionering,” sê Bergh.

“Die ouens wat van sewes af kom, is professioneel, fiks en hul vaardighede is goed.”

Makata het nog nie senior provinsiale rugby gespeel nie. Hy gaan by die Griekwas as vleuel oorweeg word.

Die Poubloues het diepte op vleuel met nog ’n oud-Blits, Rosko Specman, sowel as Jaer, Luther Obi, Jay-Cee Nel en Raegan Oranje wat oorweeg kan word. ­

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article