’n Skaars akkedis-spesie is weer aan die Weskus opgemerk.
Die herontdekking van die skaars oranje sandveld-akkedis (Nucras aurantiaca) is in Desember naby Lambertsbaai deur die Trust vir Bedreigde Wild (EWT) en medewerkers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit en die Bayworld-museum gedoen.
Volgens die EWT is waarnemings van die akkedis nog net twee keer vantevore aangeteken. Die mees onlangse waarneming voor dié in Desember was meer as tien jaar gelede.
Die EWT se eenheid gemoeid met bewaringsbeplanning en wetenskap doen opnames oor spesies “met gebrekkige data” wat tans op die rooilys van bedreigde spesies is. Dié spesies laat nie rooi vlae wapper wanneer omgewingsimpakstudies gedoen word nie omdat hulle nie ingesluit word in die departement van bosbou, visserye en die omgewing se kontrolelys nie.
Dié uitsluiting beteken die spesies is kwesbaar vir uitsterwing nog voordat mense faktore soos hul ekologie, vereistes vir habitat en bedreigings kan verstaan.
Die oranje sandveld-akkedis is een van tien reptiele wat op die rooilys as dié met gebrekkige data aangedui word. Nog 44 reptielsoorte waaroor daar kommer bestaan, is ook op die lys.
Die hoofdoel van die opnames is om genoeg nuwe data in te samel sodat die spesies op die lys kan vorder, hetsy vir insluiting in ’n toepaslike kategorie van bedreiging, of om aan te dui dat hulle nie bedreig word nie – wat ’n invloed op die vlak van beskerming het wat hulle ingevolge wetgewing ontvang.
Die streek waarin die sandveld-akkedis opgemerk is, is weens landboubedrywighede en mynbouprospekteerregte onder druk.
Weens die spesie se skaarsheid en die verandering van sy habitat is dit waarskynlik dat die spesie ingesluit sal word onder ’n afdeling vir bedreigde spesies op die rooilys.


