’n Fietsrit van 2 900 km oor 60 dae word deur twee afgetrede manne in geel onderneem om slagoffers van geslagsgegronde geweld (GGG) te ondersteun.
Onder die vaandel van Yellow for Survivors, ’n nie-winsgewende organisasie, het Gerhard Botes en Deon Viljoen (albei 67) op Vrydag 9 April vanaf ’n plaas in die Noupoort-omgewing op hul traptog deur die Karoo en Noord-Kaap vertrek.
Yellow for Survivors is in 2019 deur Leilani Kuter, ’n teenverkragtingsaktivis, gestig om aan oorlewendes van GGG en verkragting hulpbronne en veilige ruimtes beskikbaar te stel om in die genesingsproses van dié lewensveranderende ervaring te help.
Die 60-dagfietsrit strek vanaf Noupoort na onder meer Hanover, Philipstown, Vanderkloof, Orania, Hopetown, Kimberley, Griekwastad, Groblershoop, Upington, Rietfontein, Kakamas, Pofadder, Springbok, Steinkopf, Port Nolloth, Alexanderbaai, Kamieskroon, Garies, Vanrhynsdorp, Nieuwoudtville, Calvinia, Williston, Carnarvon, Vosburg, De Aar en terug tot op Hanover.
Kuter is op 16 September 1992, toe sy 18 jaar oud was, verkrag en as dood agtergelaat toe sy ’n inwoner van die NG kerk-jeugsentrum in Vermeulenstraat, Pretoria, was. Kuter het onwetend ’n gevaarlike man in haar kamer toegelaat en dit het haar lewe vir altyd verander.
Sy het 27 jaar later besluit om openlik oor haar nagmerrie te praat om ’n dialoog te begin sodat ander slagoffers met soortgelyke ervarings bemagtig kan word en die stigma verbonde aan verkragting kan verminder. Op 16 September 2019 het Kuter, geklee in geel (die kleur wat haar aanvaller gedra het) haar reis van 27 dae begin en elke dag 27 km gestap om standpunt teen seksuele aanranding en GGG in te neem.
Die doel van haar staptog was ook geldinsameling vir die koop van noodvertroostingspakkies om aan jong meisies te gee wanneer hulle seksuele aanranding aanmeld en deur die proses moet gaan om hul storie te vertel. Bykomende geld is gebruik om met rehabilitasie en berading te help.
Kuter het dié eerste staptog van 729 km op 12 Oktober 2019 by die atletiekstadion in Roodepoort voltooi. Die roete het deur vier provinsies gestrek en het meer as 3 645 uur geneem om af te lê. Sy is deur meer as 300 individue (sommiges verkragtingoorlewendes) van alle ouderdomsgroepe ondersteun. Sy het ook meer as R250 000 ingesamel en het die geld aan Matla A Bana, die Go Purple-stigting, Kinderwelsyn in Nelspruit, die 1 000 Women-trust en Matrix Men versprei. Sy het hierna Yellow for Survivors gestig. Sy onderneem steeds toewydingstaptogte vir oorlewendes, asook ter nagedagtenis aan diegene wat hul lewe weens GGG verloor het.
Kuter is ’n motiveringspreker en ambassadeur vir SA Women Fight Back en Women for Change, en Yellow for Survivors werk ook saam met Never Tap Out, wat klasse in teenverkragtingstegnieke aanbied. Yellow for Survivors bied ook motiveringspraatjies aan en is in vennootskap met HeadRoom, ’n bekostigbare aanlynterapie- en beradingsplatform.
Botes ondersteun Kuter sedert haar eerste staptog in 2019 en is steeds tydens hierdie togte haar kameraman, geesdriftige aanmoediger en beskermengel. Botes, oorspronklik van die Hexriviervallei, het onder meer by Sasol, Eskom en verskeie myne gewerk en ook die hoofroetes deur Afrika as ’n vragmotorbestuurder aangepak. Hy was vir 32 jaar ’n kameraman by die SABC. Hy het drie jaar gelede afgetree en fokus nou daarop om organisasies soos Yellow for Survivors te ondersteun, en om oplossings te help vind vir GGG in Suid-Afrika.
Viljoen het aan die Wes-Rand grootgeword en in die 1980’s rugby vir Transvaal en die Vrystaat gespeel. Hy het in die 1990’s begin fietsry en wil nou iets aan die gemeenskap wat hom gevorm het, teruggee.
Botes en Viljoen se volledige roete kan op die webwerf yellowforsurvivors.co.za gevind word. Volg hulle ook op Yellow for Survivors se sosialemediabladsye.
Skenkings kan op die befondsingsplatform Back A Buddy gemaak word.
Van die dae en die punte waar Botes en Viljoen gaan aandoen, is onder meer:
- Kimberley: Saterdag (17/04), Sondag (18/04) en Maandag (19/04)
- Griekwastad: Woensdag (21/04)
- Groblershoop: Donderdag (22/04)
- Upington: 24, 25, 26 en 27 April
- Kakamas: 7 en 8 Mei