Diegene wat ’n uitstappie na die verre Noord-Kaapse platteland oorweeg, kan die Williston-landbouskou van 23 tot 25 Februarie bywoon.
Die sekretaresse van die skoukomitee sê dit is een van die min landbouskoue in die Karoo waar daar nog behoorlik met diere geskou word.
’n Slaglamkompetisie vind onder meer plaas, asook een vir duiwe en pluimvee, boerbokke, dohnemerinos, Afrikaners, melkbokke, Van Rooys, dorpers en witdorpers.
’n Perdekampioenskap vind ook plaas.
Van die ander aktiwiteite op die program is:
- Donderdag 23 Februarie om 18:00, vind die biefstuk-ete in die Williston-braaituin plaas.
- Op Vrydag 24 Februarie om 12:30 vind ’n eetkompetisie plaas waarin deelnemers meeding wie die meeste vetkoek met maalvleis kan eet. Die Williston-skoudans vind op Vrydag om 18:30 plaas.
- Op Saterdag 25 Februarie om 10:00 vind die “Say Cheese and Wine about it”-geleentheid in die skousaal plaas. Bring jou gunstelingwynglas en vriendin, en vind uit oor die wyn wat die beste by jou persoonlikheid pas.
’n Verskeidenheid stalletjies sal vir die duur van die skou ware verkoop.
Vir meer inligting skakel 060-580-7480, of besoek die Facebook-blad Williston Landbouskou.




