Charné Kemp het met dr. Etienne Venter, hoof van die Laerskool Eureka in Kimberley, gesels.

Wat is die kernmissie en -visie van Eureka?

Die missie en visie is duidelik gerig op die holistiese ontwikkeling van elke leerling om trots te kweek in hul skoolgemeenskap deur uitnemendheid in akademie, sport en kultuur in alle fasette van hul skoollewe na te streef.

Die skool plaas ‘n hoë premie op die akademiese ontwikkeling, met sport en kultuur wat die akademie ondersteun om kind ʼn gebalanseerde toekoms deur diversiteit en samehorigheid te verseker.

Ons kernwaardes word aktief bevorder in die klaskamers, op die sportveld en in die gemeenskap. Waardes wat daagliks geleef word is, omgee, respek, verantwoordelikheidsin, regverdigheid, betroubaarheid, burgerskap, integriteit en dankbaarheid.

Dr. Etienne Venter.
Dr. Etienne Venter. Foto: Charné Kemp

Deel ‘n paar onlangse prestasies of suksesse.

Op akademiese vlak is ons aangewys as die beste laerskool in die Frances Baard-distrik vir 2024. Dit is ‘n aanduiding van toewyding en “uit-die-boks-dink” van die onderwysers.

Op sportgebied poog ons om maksimale geleenthede te skep sodat leerlinge hul volle potensiaal kan bereik. Ons het ons eerste Kelrn 7’s-toernooi aangebied en wil dit uitbrei deur dit volgende jaar te kombineer met ʼn Hoops-netbaltoernooi. Kultuur bied geleenthede vir alle leerlinge om te ontwikkel, soos deur ons gr.2-Orff konsert en gr.3-Blokfluitkonsert. Verder het ons ook begin met ʼn marimba- en orff-orkes.

Op sportterein het ons die afgelope vakansie 11 leerlinge gehad wat Eureka op provinsiale vlak in netbal, rugby en hokkie verteenwoordig het. Ons o.13-netbalspan was naaswenners van Noord-Kaap kampioenskappe en gaan aan die inter-provinsiale toernooi einde Julie in Polokwane deelneem.

Wat is die grootste uitdagings waarmee julle te doen het?

Die eksterne druk deur die onderwysdepartement. Skole is hoofsaaklik afhanklik van ouerbetrokkenheid en dit verg doeltreffende en konstante bestuur om al die behoeftes te vervul. Die uitdaging is om ‘n laerskool met 750 leerlinge voor te berei vir die toekoms, met elk van hul onderskeie talente, potensiaal en vermoëns.

Hoe bevorder die skool inklusiwiteit?

Deur gelyke geleenthede vir alle leerlinge met ‘n verskeidenheid van benaderings wat fokus op individuele ondersteuning en remediërende onderrig, waardegerigte opvoeding met burgerskap en verantwoordelikheidsin asook breë deelname aan skoolaktiwiteite.

Hoe skakel julle met ouers en die breër gemeenskap om leer en ontwikkeling te ondersteun?

Die skool het ‘n sterk verbintenis tot ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid, wat ons as ‘n kernpilaar van leerlingontwikkeling beskou.

Watter stappe word geneem om geestesgesondheid en welstand vir leerlinge en personeel te prioritiseer?

Die skool plaas ‘n sterk fokus op die algehele ontwikkeling van elke leerling, wat hul geestesgesondheid en emosionele welstand insluit. Elke leerling ontvang ‘n stokkielekker op sy/haar verjaarsdag om dit vir hul meer persoonlik te maak. Sport- en kultuuraktiwiteite dien as uitlaatkleppe vir stres en bevorder sosiale verbondenheid, bou van selfvertroue en ‘n gevoel van behoort versterk. Daarom moedig ons massadeelname aan ongeag ‘n leerling se vaardighede.

Hoe integreer julle tegnologie en innovasie in die kurrikulum?

Op verskeie maniere in die kurrikulum en skoolbestuur, om leerlingontwikkeling te versterk en kommunikasie te verbeter. Ons volg ‘n holistiese benadering. Klaskamers is toegerus met tegnologiese hulpmiddels om die leeromgewing vir die onderwyser en leerling te verbeter.

Hoe verseker julle veiligheid en sekuriteit op die terrein?

Standaardpraktyke word toegepas en leerlinge word aangemoedig om oop kommunikasie met onderwysers te hê.

Hoe berei die skool leerlinge voor vir toekomstige uitdagings?

Deur ‘n holistiese, waardegedrewe en prestasiegefokusde benadering tot onderwys. Die skool plaas ‘n hoë premie op individuele akademiese ontwikkeling, wat leerlinge toerus met denkvaardighede en selfvertroue wat nodig is vir hoër onderwys en die moderne wêreld. Kwartaalliks word die tien top akademiese leerlinge geprys, maar ook elke individuele leerlinge wat 10% en meer verbeter het op sy rapport. Leerlinge word weekliks tydens saalopening erkenning gegee vir prestasies in buitemuurse aktiwiteite wat nie skoolverband is nie.

Watter eienskappe waardeer u die mees meeste in u onderwyspersoneel, en hoe ondersteun u hul professionele groei?

Die skool stel baie hoë standaarde vir hul personeel en is ‘n voorstaander van eienskappe wat nie net akademiese kundigheid weerspieël nie, maar ook ‘n diep verbintenis tot waardegedrewe opvoedingsfilosofie. Alles begin by die personeellid self en sy/haar aandeel tot die verbetering van Eureka. Spanwerk, geesdrif en kreatiwiteit is van kardinale belang vir ‘n skool se toekoms. Geleenthede en projekte word aangebied sodat die personeel hul leierskapvaardighede, mentorskap en professionele ontwikkeling kan ontwikkel, en gebruik tot die voordeel van Eureka.

You need to be Logged In to leave a comment.