Lewende Water: God se “hoekom”

Die hoeveelheid kere wat mense webblaaie besoek of na videos kyk, gee ’n aanduiding van wat hulle interesseer.


Die hoeveelheid kere wat mense webblaaie besoek of na videos kyk, gee ’n aanduiding van wat hulle interesseer.

’n Bekende motiveringspreker, Simon Sinek, vertel in ’n video wat al 50 miljoen keer gekyk is, hoe jy ’n goeie leier kan wees.

Kortliks argumenteer hy dat ’n goeie leier eerstens sy “hoekom” moet uitklaar voordat hy sy “hoe” aan sy volgelinge verduidelik.

Dus, dink eers mooi oor die rede waarom jy iets doen voordat jy dit begin doen. As jou rede oortuigend is, sal mense jou makliker volg.

Efesiërs 2 begin deur te vertel van die slegte posisie waarin die mense hulle bevind.

Weens ons sondige gedrag stuur ons op die rotse af en ons kan dit nie keer nie.

Maar ons lees ook in vers 4: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.”

Dit is sy “hoekom”. Dit is die rede vir sy optrede.

God het sy onbeskryflike genade en liefde aan ons gewys in en deur dade. Ons sien sy liefde in sy dade.

Dit is hartseer, maar die kerk is nie meer die middelpunt van die samelewing nie.

Moderne mense gaan nie meer kerk toe nie, en hulle ken nie die rituele wat daar gebeur nie.

Wat erger is, is dat hulle nie altyd deur ons gedrag getrek word om kerk toe te gaan nie. Baie gelowiges se uitsprake in die openbaar is ondeurdag en selfs liefdeloos.

Ons toon dikwels min respek vir die mense wat nie glo nie.

Ons praat oor die samelewing met hoogmoed in ons woorde.

Ons woorde is veroordelend.

Daarteenoor sien ons juis God se anderse manier.

Hy tree nie met geweld op teen mense wat Hom nie dien nie. Op grond van sy groot liefde stuur Hy Jesus en sterf Hy sodat mense kan lewe.

Hy offer op, sodat ander kan wen.

Kortom, mense sien ’n vreemde “hoe” en vra dan: “Hoekom” tree Christene so op? Is dit wat Jesus sou doen?

Mag ek en jy ook draers van liefde en genade wees.

Mag ons gedrag daarvan getuig.

Laat jou hoekom en jou hoe by mekaar aansluit.

You need to be Logged In to leave a comment.