Dit voel net reg dat daar vir oulaas van Annerie Louw se Mannesanggroep melding gemaak word.
Jy kan sê sy het hulle met die hand grootgemaak, afgerig en skougehalte gekry.
Die mans het in 2007 gereageer op ’n versoek wat sy gerig het aan die gemeentelede van die NG kerk Kuruman (Moedergemeente) dat almal wat belangstel in ’n sanggroep, haar moet kontak.
Ses mans het na vore getree, naamlik Jacques Whitehead, Henning Spies, Floris Kruger, Deon Deetlefs, Sarel Coetzee en Cobus van Wyk.
Baie gou het hulle by gemeente-geleenthede begin optree en selfs in buurdorpe.
Louw was ook by ’n?hele paar Barnyard-konserte vir geldinsameling betrokke vir die gemeente.
Die groep is ook na onder meer Barkley-Wes, Niekerkshoop, Upington, Marchand, Wesselsbron en Zeerust genooi.
Sy was ook bekend vir haar verwerkings en vertaling van bestaande liedere. Sy het byvoorbeeld vir die sanggroep eietydse woorde vir “Sarie Marais” geskryf en ook ’n Gé Korsten-keurspel waarmee hulle gehore bekoor het.
Sy het Afrikaanse woorde vir Dana Winner-liedjies en ook ’n Michael Jackson treffer geskryf wat die groep gesing het.
In 2016, met die kerk se eeufees, het hulle onder andere “Elke mens ’n storie”van Elvis Blue gesing.
Later het van die lede verhuis en Izak Ekkerd en Kobus Kotze het hulle by die groep aangesluit.
Petro Spangenberg het later bygekom.
Spangenberg het vir Louw belowe dat sy haar beste sal doen om die groep te help voortbestaan.
Die groep is ná Louw se aftrede en verhuising na Mosselbaai ook deur Ilse Erasmus en ds. Neeltjé van Staden begelei en huidiglik deur Sunette Möller.
Louw was ’n briljante skrywer en digter, en sy word veral deur die Mannegroep gemis.
Dit word saamgevat deur ’n gedig wat Deon Deetlefs ’n dag ná haar gedenkdiens geskryf het:
Môre Druppeltjie, ek praat vir oulaas só met jou –
vir my was jy ’n besonderse vrou.
Met jou goue hare en rasperstem
het jy deur jou lewe baie harte gewen.
Saam het ons gesing en gespeel,
want musiek en toneel kon jy met ons deel.
Met jou skerp oog en fyn gehoor het jy menige foute reg getoor.
Jy was lig en anker in my lewe
en het my na nuwe hoogtes laat strewe.
‘Hoofseun’ groet jou hier op aarde
maar sal nooit vergeet jou lewenswaarde.
Jy los ’n leemte in my hart,
maar jy’s nou verlos van pyn en smart.
Rus sag, ons Goue Druppel –
ek weet jy’s reeds besig om te huppel!
Jy’s by jou groot liefde en man –
sê baie groete vir ou Jan.