Bloemhof se bobbejaan
Kees se kind op die kerkdak. FOTO: Videogreep

Met die gegons oor Bloemhof wat as Kwêla Dorp van die Jaar aangewys is, was dit nie net mense wat nuuskierig hieroor was nie. Bobbejaan se kind het ook besluit hy wil kom kyk waaroor die bohaai gaan.

Dié kees, Bloemhof se eie kerkbobbejaan, het onlangs vir onge-kende samehorigheid gesorg toe hy homself netjies neffens die kerkklok van die NG kerk tuisgemaak het.

Daleen Steyn, projekleier van Bloemhof se Dorp van die Jaar-veldtog, vertel verder:

“Aksie is onmiddellik geneem, want bobbejaan se onskuldige glimlag het vinnig in ‘n pandemonium ontaard toe daai slagtande die lewensverwagting van ‘n paar spoghoenders drasties verkort het. Verskeie planne is beraam om Kees se kind weer bos toe te stuur. ‘n Vrugtelokval in die vanghok? Nee wat, daai bobbejaan was te slim vir piesangs en pere. Hy’t gekyk, geknipoog en geloop.

Toe, uit die ooste het die buurdorp, Hoopstad, se veearts, dr. Pieter Botes, sy opwagting gemaak. Hy het die hele dag by die kerk deurgebring – nie omdat dit Sondag was nie, maar omdat hy saam met die bobbejaan-taakspan ‘n missie gehad het.

Met geduld, spanwerk en ‘n pynlose verdowingspyl is die liewe bobbejaan gehelp om ‘n diep middagslapie te vat.

Soos ‘n ware VIP is hy veilig oorgelaai, versorg en vrygelaat in sy natuurlike habitat – waar hy nou waarskynlik stories vertel van die dorp met die kerkklok, die maklike hoenders en die kleurvolle hoofstraat.”

Die dorp bedank Louis Coetzee wat leiding geneem het as koördineerder van die bobbejaan-aksiegroep, vir Botes, en elke lid van die taakspan wat kalm, professioneel en met ‘n goeie sin vir humor opgetree het. Elke inwoner wat inligting deurgegee het, word ook bedank.

“Hierdie week het Bloemhof gewys: ons hardloop nie net vir titels nie – ons staan saam, selfs teen ‘n kerkbobbejaan.”

Tong in die kies word gevra dat Kees se kind se attestate by die NG kerk gelig word – hy was darem tydelik ‘n lid… net sonder dooplidnommer.

LEES OOK: Kwêla se Dorp van die Jaar: Son skyn nuut oor Bloemhof as wendorp

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article