Navorsers het onlangs besluit om honderde Afrika-plante se wetenskaplike spesiename wat ’n “kwetsende” politieke inhoud het te verander. So sal die “c” in alle spesiename met die agtervoegsel “caffra” weggelaat word sodat net “afra” oorbly.

Luidens die artikel “Hundreds of racist plant names will change after historic vote by botanists”, wat onlangs in die tydskrif Natureverskyn het, is dit die eerste keer in die geskiedenis dat enige spesienaam verander word omdat dit aanstoot gee.

Só sal die Kei-appel se wetenskaplike naam nou verander van Dovyalis caffrana Dovyalis afra, die waterboomheide van Erica caffra na Erica afra, en die koraalboom van Erythrina caffra na Erythrina afra.

Dié besluit is onlangs geneem op die Internasionale Botaniese Kongres in Madrid, Spanje, wat deur 556 navorsers bygewoon is.

Naas Grové, president van die Suid-Afrikaanse Dendrologiese Vereniging, sê die voorstel kom oorspronklik van die Suid-Afrikaanse botaniste prof. Gideon Smith en Estrela Figueiredo, albei aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) verbonde.

Hulle het baie jare ’n veldtog gevoer dat die stelsel van internasionale taksonomie voorsiening moet maak vir veranderinge aan kwetsende dier- en plantname. Hy sê daar is steeds mense wat teen die veranderinge skop, maar die spesienaam “afra” verwys na ’n boom of plant wat van Afrika afkomstig is.

“Talle van die gewone boomname is ook oor die jare verander,” sê Grové.

“Só het perdepis, perdepram, drolpeer, bokdrol soos talle ander ‘skelname’ ’n sagter aanslag gekry. Dit is nou perdehout, knophout, blompeer en klipels.”

Elise Tempelhoff

You need to be Logged In to leave a comment.