Ongeag my besige program stop ek vinnig by ‘n winkel om na iets unieks as ‘n geskenk vir ‘n vriendin te soek.

My energievlakke is laag van te veel werk en te min slaap.

Die pragtige artikels in die winkel lei my aandag ‘n oomblik van my moegheid af.

Ek tel hier en daar ‘n artikel op. Bestudeer dit.

Kyk na die prys.

Die vriendelike verkoopsdame vra of sy my kan help.

Ek loer net rond, verduidelik ek sag.

Ná ‘n paar minute kry ek die geskikte geskenk. Ek stap daarmee na die betaaltoonbank toe.

Die kaartmasjien is steeks, dit wil nie my kaart lees nie.

Die eienaar van die winkel vra om verskoning en hou die kaartmasjien dan hoog in die lug op.

“Dit werk soms,” verduidelik hy.

Nie hierdie keer nie.

Hy ontkoppel die elektriese koord en sit dit weer terug.

Niks.

“Is jy haastig?” vra hy.

“Nee,” jok ek halfmas.

Hy draai die kaartmasjien om en haal die battery uit. Hy wag ‘n paar tellings. Dan sit hy dit versigtig terug.

Die kaartmasjien lees my kaart en hy oorhandig die strokie.

“Ek wens iemand wil my battery ‘n slag uithaal en terugsit,” sê ek en sug.

Die eienaar lag.

Ek stap by die deur uit en klim in my voertuig.

Voordat ek die voertuig aanskakel, trek ek ‘n asemteug diep in.

“Regtig,” sê ek hardop.

“Ek wens ons mense kon so vinnig herstel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article