Kuruman “val letterlik en figuurlik uitmekaar met slaggate in byna elke straat, en so diep dat motors se onderstelle daarin wegsak”.
Só sê ‘n inwoner wat aanvoer die Ga-Segonyana-munisipaliteit “gee net niks meer om nie”. Hy wil nie sy naam noem nie. Op 13 Mei sou die munisipaliteit sy nuwe verhoogde tariefstruktuur met inwoners op openbare vergaderings in verskillende wyke bespreek.

“Ons kan nie tariefverhoging aanvaar as ons geen dienste kry nie. Dit moet verwerp word totdat ons beter dienste kry. Ons word reeds deur hemelhoë tariewe geknel.
“Al die strate en paaie, veral Poolmanstraat, is onbegaanbaar. Motoriste swaai links en regs om die ergste gate te vermy. Kerkstraat het so ‘n diep gat dat ‘n kar daarin kan wegsak. Livingstonestraat is in ‘n swakker toestand. Alles gaan ten gronde en die munisipaliteit doen niks daaraan nie. Ek kan nie onthou in al die jare dat ek hier bly dat dit so sleg gelyk het nie.
“Al straat wat reggemaak is, is Moffatweg. By die Mokala Mall ry afleweringvragmotors in die strate van woongebiede. Die strate se teeroppervlak is te dun vir swaar verkeer, en gaan daardie paaie ook tot niet.
“Ons raadslede is ook in die duister, en kan ons nie inlig of daar lig in die tonnel is nie. Nou wil hulle ‘n nuwe inkopiesentrum in die middedorp bou. Wat van die paaie en toename in verkeer? Wat word daaraan gedoen?”
‘Toestand vinniger agteruit as vorentoe’
Nog iemand wat by ‘n onderneming in Kuruman betrokke is, sê daar is ná die afgelope twee maande se swaar reënval “hier en daar ‘n poging” om slaggate reg te maak.
Maar “die toestand gaan vinniger agteruit as vorentoe.” Die nie-instandhouding strek oor jare. Die groot aantal ertsvragmotors wat deur Kuruman ry, dra by tot die swak toestand van die paaie.

Nog ‘n inwoner sê die paaie is in ‘n “aaklige toestand”.
“Van die gate is so groot en diep ek kan ‘n boom daarin plant.”
Dié persoon vertel dat van die gate oor die breedte van ‘n pad strek. Weens die ruig plantegroei tot teen die teeroppervlak kan ‘n mens dan nie van die pad afry nie. Dan “kruip jy teen minder as 10km/h aan”.
Die persoon vertel van ‘n inwoner wat op een slag twee motorbande in Poolmanstraat beskadig het.
Nog ‘n inwoner het laat weet dat die persone wat die slaggate by die busterminus opvul, nie ‘n stamper het om die nat teer vas te stamp nie.
“Hulle staan en trap daai teer met hulle voete in.”
- Martin Tsatsimpe, munisipale bestuurder, het nie op versoek om kommentaar reageer nie.





Nog foto’s van paaie in Kuruman. Op van die foto’s kan gesien word dat voertuigbestuurders nie eens langs die pad kan ry nie weens oorgroeide sypaadjies of padskouers. Foto’s: Verskaf
You must be logged in to post a comment.