Koning Antonio Saboa van die !Xum-gemeenskap sê hulle kry nie wat ander tradisionele leiers ontvang nie.

Foto: Charné Kemp

Die eerste registrasienaweek voor volgende jaar se verkiesing het glad in die Noord-Kaap verloop met altesaam 79 454 mense wat vir die eerste keer geregistreer of herregistreer het.

Altesaam 10 226 is tussen 18 en 21 jaar oud. Vir 19 315 van die Noord-Kapenaars was dit hul eerste registrasie as kiesers. Die ander het herregistreer of van stempunt verander.

Die Verkiesingskommissie (OVK) het die syfers op Maandag 20 November bekend gemaak.

In Platfontein buite Kimberley, waar die !Xum en Kwhe San-gemeenskappe bly, was dit baie bedrywig by die registrasiepunt by die plaaslike laerskool. Die ANC en Patriotic Alliance (PA) het stalletjies voor die skool opgeslaan en met voornemende kiesers gesels.

Elders in die woonbuurt het vroue hul wasgoed of skottelgoed buite hul huise gewas, want dié Hop-huise het nie een lopende water nie. Hulle het nie badkamers nie en kombuise is swak toegerus. Water word by buitekrane getap en plastiekkomme en -baddens word gebruik. Buitetoilette staan in die erwe. Sakke word in die puttoilette gebruik, wat elke week of twee in die strate geplaas word waar die Sol Plaatje-munisipaliteit dit oplaai.

Koning Antonio Saboa van die !Xum-gemeenskap sê hulle kry nie wat ander tradisionele leiers ontvang nie.

Koning Antonio Saboa van die !Xum-gemeenskap, wat aan die westekant bly, is baie ontevrede.

“Ek is skaam oor ons toilette en ons drievertrek-huise. Dit is mos nie soos ’n koning en sy mense moet bly nie. My huis het geen deure nie, en vertrekke word met materiaal geskei. Meisies en seuns moet beddens in een kamer deel.”

Die huise, wat geen plafonne of isolasie het nie, is snikheet. Buite sing die sonbesies in temperature van 37 °C.

Hy sê dit voel asof hulle niks beteken nie.

“Hulle noem my ’n koning, maar dit beteken min. Ons kry niks wat ander tradisionele leiers in die land ontvang nie. My klagtes val op dowe ore. Probleme bly onopgelos.”
Koning Antonio Saboa

Werkloosheid is nog ’n euwel. Sy seun wat in sy 40’s is, kry nie werk nie en kan nie vir sy vroue en kinders sorg nie.

Wentzel Katjara, ’n Khwe-leier, sê dit is belangrik dat mense in die komende verkiesing stem.

“As jy nie stem nie, het jy nie ’n sê oor wat gebeur nie. Ons uitdagings is matriekleerlinge wat nie werk kry nie, pensioenarisse wat swaarkry.

“Die regering moet ons dringend help om lewenstoestande te verbeter.”

Anna Chipopa verduidelik aan Wentzel Katjara, ’n Khwe-leier, watter gewasse sy in haar groentetuin kweek.

Nog ’n inwoner bekla die lot van oumense wat saktoilette gebruik.

Tummy Duiker het ’n paar jaar gelede hier ingetrek en die tale aangeleer. Hy sê hy bly lekker, te midde van probleme.

“Deel van die probleem is dat gemeenskappe nie saamstaan en saam veg vir beter toestande nie. Hier bly tot 20 mense in een huis. Ons moet soos een familie saamwerk. Ons moet saamstaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.