Kroonstad-gemeenskap in rou ná tragiese ongeluk by laerskool
In ‘n noodlottige ongeluk is Thandolwakhe Zondi, ‘n gr. 4-leerling aan die Kroon Primary School in Kroonstad, op Vrydag 29 Augustus oorlede. Credit: Kroon Primary School Facebook. Storie:

Die Kroonstad-gemeenskap is in diepe rou gedompel ná ‘n noodlottige ongeluk waarin ‘n graad 4-leerling van Kroon Primary School Vrydagmiddag gesterf het.

Die tragiese voorval het op Vrydag, 29 Augustus kort ná 13:00 in Booysenstraat, Suidrand, Kroonstad plaasgevind. Die leerling, Thandolwakhe Zondi, is glo deur ‘n motor raakgery en op die toneel deur owerhede dood verklaar.

Volgens sersant Josephine Rani, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 13:15 ‘n oproep ontvang dat ‘n leerling by die skool in Suidrand deur ‘n voertuig getref is. Owerhede is onmiddellik na die toneel ontbied. Die voorval word tans deur die polisie ondersoek.

In ‘n inskrywing op Kroon Primary School se Facebookblad het die skool hul diep hartseer en medelye gedeel oor Thandolwakhe se skielike afsterwe. Hulle het hul innige simpatie uitgespreek teenoor haar familie, onderwysers, klasmaats en vriende.

Leerling sterf buite skool in Kroonstad ná ongeluk
Owerhede was Vrydagmiddag lank op die toneel ná ‘n leerling op die toneel dood verklaar is ná sy raak gery is. Foto: Madli Grobbelaar Credit: Verskaf

“Sy was ‘n mooi en sagte siel wie se teenwoordigheid lig in ander se lewens gebring het. Haar heengaan laat ‘n groot leemte wat woorde nie kan vul nie. Ons harte gaan opreg uit na die Zondi-familie in hierdie bitter moeilike tyd,” lui die verklaring.

Die skool het terselfdertyd die gemeenskap versoek om nie oor die voorval te spekuleer nie en aangedui dat hulle geen navrae van die media sal hanteer nie.

VrystaatKroon het Vrydag ‘n amptelike navraag aan Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Onderwys, gerig en wag tans op terugvoer.

You need to be Logged In to leave a comment.