Te midde van Eskom se aankondiging Dinsdag (31/01) dat fase-5- en fase-6-beurtkrag later die dag ingestel sou word, is daar nog geen klarigheid oor ’n versoek aan die Gamagara- en die Ga-Segonyana-munisipaliteit om by dié kragvoorsiener aansoek te doen om hul reservoirs van beurtkrag vry te stel nie.
Dié versoek aan die munisipaliteite kom nadat inwoners van Olifantshoek onlangs meer as ’n week lank sonder water was, Kuruman maande lank reeds sporadiese watertekorte ervaar en onlangse brandbestryding in die gebied bemoeilik is weens ’n tekort aan water.
Die DA het reeds in Januarie die versoeke hieroor aan die munisipale bestuurders van die twee rade gerig.
“Tot op hede het die munisipale bestuurders nog nie op ons skrywes reageer nie. Ons kan ook nie namens die rade by Eskom hierdie aansoek rig nie,” het Willie Aucamp, DA-kiesafdelingshoof vir die Kalahari, Dinsdag (31/01) gesê.
Aucamp sê hoewel swak infrastruktuur en onvoldoende kapasiteit ’n groot rol in die dorpe se waterprobleme speel, lei die kragonderbrekings, wat beurtkrag insluit, daartoe dat die watervlak van reservoirs kritiek laag raak.
“Dit is eenvoudig. As daar nie krag is nie, is daar nie water nie.
“Ons versoek enige oplossing om te verseker dat mense voortdurend toegang tot bruikbare water het,” sê Aucamp.
Februarie, gewoonlik die warmste maand van die jaar, lê voor; en met die uiterse hoë temperature wat normaalweg beleef word, asook die voortdurende risiko van brande, is ’n betroubare waterbron uiters noodsaaklik.
“Toegang tot water is ’n basiese mensereg,” beklemtoon Aucamp.
Intussen het AfriForum ’n ernstige waarskuwing aan inwoners van Kakamas gerig om nie die dorp se water te drink nie omdat dit met hoë vlakke van E.Coli-bakterieë en fekale koliform besmet is.
Werner Strauss, die organisasie se distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê watermonsters is Donderdag (26/01) in die dorp geneem, en by ’n laboratorium in Upington wat by die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel akkrediteer is, getoets.
Die toetse se uitslag, wat die volgende dag ontvang is, het bevestig dat die water in Kakamas nie vir menslike gebruik geskik is nie.
Intussen het die Kai !Garib-munisipaliteit Maandag aangekondig dat die watersuiweringswerke van Kakamas, Keimoes en Lennertsville vir 48 uur deur Eskom van beurtkrag kwytgeskeld is sodat die reservoirs behoorlik gevul kan word.
Die vrywaringstydperk het Dinsdag net ná middernag begin.
Hoewel dié vrywaring tydelik water in die krane impliseer, is daar na bewering nie chloor by die watersuiweringsaanleg beskikbaar om die water te suiwer nie.


