Kimberliete moet hulself gereed maak om vandeesweek vier dae lank sonder water te wees wanneer die Sol Plaatje-munisipaliteit lekplekke en ander foute op die twee grootmaatwatertoevoerpypleidings, wat onderskeidelik 72 en 51 jaar oud is, herstel.
Dit word gedoen om die huidige waterverliese van 60% en gepaardgaande inkomsteverlies te beperk.
Een van die belangrikste oogmerke is om die watervloei na die Platfontein-pan by die R31-roete te verminder. Herstelwerk sal ook die gereelde watertoevoeronderbrekings in die vervolg verminder.
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê in ’n verklaring inwoners moet gerusgestel wees dat die munisipaliteit sy grootmaatwatertoevoer-ingrypingsplan uitvoer.
“Inwoners moet deel word van die oplossing. Gereelde wateronderbrekings sal steeds voorkom totdat die kort- en mediumtermyn ingrypings ingestel is. Die langtermyn-ingryping sal outomatisering, nuwe pypleidings en nuwe watersuiweringsaanlegte insluit.”
Terwyl die watertoevoer afgesluit is, gaan die munisipaliteit lekplekke en problematiese kleppe op die twee pypleidings tussen die Riverton-onttrekkingsaanleg en die Newton-opgaardamme herstel. Water gaan uit die hele stelsel gelaat word.
“Die twee pypleidings, wat onderskeidelik 54 megaliter en 108 megaliter per dag wegvoer, is al verskeie kere herstel. Die ouderdom, omgewingstoestande waarin die pypleidings is en die verswakkende infrastruktuur noodsaak die jongste herstelwerk.
“Lekplekke veroorsaak waterverliese en bedreig ons watersekerheid. Die beplande werk moet tegniese waterverliese en verlies aan inkomste verlaag, watertoevoeronderbrekings verminder, watergehalte verbeter en die sekuriteit rondom die water-infrastruktuur opskerp.”
Die beplande werk sluit in herstelwerk aan: lekplekke by Riverton; die parallelle grootmaatpypleidings van 13 km en ’n deursnit van onderskeidelik 900 mm en 600 mm tot by middelstasie; herstelwerk van middelstasie op die twee parallelle pypleidings van 18 km met ’n deursnit van onderskeidelik 965 mm en 600 mm tot by die Newton-aanleg; en ander groot lekplekke in die retikulasienetwerk.
“As deel van die grootmaatwatertoevoer-ingrypingsplan moet onklaar meganiese toerusting herstel of vervang word om aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se nasionale peil vir gehaltedrinkwater vir menslike gebruik te voldoen.”
Nuwe stelsels moet in werking gestel word om bevredigende werking, onderhoud en kontrole te handhaaf om die grootmaatwatertoevoerstelsel se volhoubaarheid te verseker.
Korttermyningrypings in die voorgestelde plan behels die onmiddellike opsporing en herstel van lekplekke; mediumtermyningryping die vervanging van foutiewe pompe en katodiese beskerming van pyplyne; en langtermyningrypings outomatisering, die uitbreiding van watersuiweringsaanlegte, nuwe pypleidings en nuwe opgaardamme.





