’n Ramptoestand is waarskynlik weer Suid-Afrikaners se voorland.
Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het op sy lekgotla in Kempton Park besluit ’n ramptoestand soortgelyk aan dié wat tydens die Covid-19-pandemie gegeld het, is nodig om die energiekrisis op te los.
Pres. Cyril Ramaphosa het in sy afsluitingstoespraak gesê planne hiervoor moet so gou moontlik bespreek en gefinaliseer word.
Dit sou ook Woensdag (01/02) indringend op die kabinet se lekgotla in Pretoria bespreek word.
Ramaphosa het vroeër in sy weeklikse nuusbrief gesê bykomende maatreëls word oorweeg om die stygende koste van elektrisiteit te versag.
Dit sluit maatreëls in soos om huishoudings en klein ondernemings te help om sonkrag- en energiebesparingstoestelle te installeer, en om huishoudings met herlaaibare ligte te ondersteun.
Ramaphosa doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om te betaal vir die elektrisiteit wat hulle gebruik in die stryd om die energiekrisis te oorkom.
“Nie-betaling en onwettige verbindings maak die verskaffing van elektrisiteit duurder en minder betroubaar,” het hy gesê.
– Netwerk24

