blue ceramic cup filled with liquid
Ter illustrasie Credit: Jill Wellington / pexels.com

Ná die afgelope naweek se heerlike herfsdae nader ‘n kouefront die land, met sterk wind, reën en sneeu wat voorspel word.

Dié kouefront sal na verwagting teen Dinsdag 20 Mei en Woensdag 21 Mei ook verspreide reën oor dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap veroorsaak. Sneeu word vir die hoërliggende gebiede van die suidelike deel van die Noord-Kaap voorspel, en vir die hoërliggende berggebiede in die Wes-Kaap. Ook vir die hoërliggende gebied van die Oos-Kaap word sneeu voorspel.

In die Noord-Kaap word sneeu in die omgewing van Sutherland, Calvinia en Noupoort voorspel, aldus snowreport.co.za

Volgens Vox Weather kan stormsterkte wind langs die kusgebiede vanaf Alexanderbaai tot Kaap Agulhas voorkom, met branders tot 5,5m hoog. Sterk wind word vir dele van die Noord-Kaap voorspel, asook die sentrale Karoo-gebied van die Wes-Kaap, en groot dele van die Oos-Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Weerdienste (SAWS) waarsku dat die kouefront, gepaardgaande met sneeu, reën en wind, tot baie koue toestande kan lei. Boere word aangeraai om geskikte skuiling vir hul vee gereed te kry.

Oor ‘n wye deel van die binneland, vanaf Worcester tot sover as Upington, Kimberley, Bloemfontein, Aliwal-Noord en Oudsthoorn, word sterk wind wat moontlik skade kan veroorsaak, voorspel. Dié sterk wind kan tot langer reistyd lei, moontlike skade aan nedersettings, asook onderbreking in dienste.

‘n Brandstofpomp, enkele jare gelede, in Sutherland in die Noord-Kaap. Foto: Helena Barnard

Kwik daal heelwat teen Woensdag

Vir Kimberley voorspel die weerdiens yr.no ‘n minimum temperatuur van 10oC vir Dinsdag 20 Mei, en ‘n maksimum van 23oC. Teen Woensdag daal die kwik heelwat, met onderskeidelik 4oC en 11oC. Vir Donderdag word 3oC en 18oC voorspel, en vir Vrydag 6oC en 18oC. Die naweek se temperature vir die hoofstad is minimum 7oC en maksimum 19oC.

Dinsdag kan inwoners in die Upington-omgewing hulself gereed kry vir ‘n minimum temperatuur van 9oC, met ‘n maksimum van 20oC. Teen Woensdag daal die kwik ook hier, met onderskeidelik 7oC en 14oC. Vir Donderdag word 4oC en 20oC voorspel, en vir Vrydag 8oC en 23oC. Vir Saterdag en Sondag is die minimum en maksimum voorspelde temperature onderskeidelik 11oC en 23oC, en 13oC en 24oC.

Ook inwoners van die Kuruman-omgewing kan hulle vanaf Dinsdag vir kouer temperature staal, met ‘n minimum van 7oC en ‘n maksimum van 22oC. Ook hier daag bibberweer teen Woensdag op, met onderskeidelik 4oC en 12oC minimum en maksimum. Donderdag is die voorspelde temperatuur 4oC en 16oC, en Vrydag 5oC en 17oC. Die naweektemperature voorspel ook ‘n serp en jas, met minimum temperature van 6oC en maksimum van 17oC vir die dae voorspel.

You need to be Logged In to leave a comment.