Aartappels en uie kos tans allesbehalwe ’n appel en ’n ei.
Die prys van ’n 10 kg-sak uie het van April 2022 tot April vanjaar met ’n astronomiese 82% (R60,19) gestyg.
Dit het in April gemiddeld R133,55 gekos en was ook 11% (R12,81) duurder as ’n maand vantevore.
Die prys van ’n sak aartappels (10 kg) het van April 2022 tot April 2023 met 33% (R22,93) gestyg.
Dit kos nou gemiddeld R92,41 per sak.
Ander basiese kossoorte se pryse het ook drasties vanaf April verlede jaar tot
April vanjaar gestyg.
Dit sluit in mieliemeel (30 kg) met 25%; koekmeel (10 kg) met 20%; en stampmielies (5 kg) met 23%.
Dié data kom uit die indeks van huishoudelike bekostigbaarheid wat die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) maandeliks saamstel. Die pryse word in armer woongebiede van Johannesburg (Soweto, Alexandra, Thembisa en Hillbrow), Durban (KwaMashu, Umlazi, Isipingo, die stadskern, Hammarsdale, Pinetown en Mtubatuba), Kaapstad (Khayelitsha, Guguletu, Philippi, Langa, Delft en Dunoon), Pietermaritzburg en Springbok gemeet.
Dit blyk kos was in April die goedkoopste in Durban en die duurste in Springbok.
Die Durbanse mandjie met basiese kossoorte het in April R4 880,67 gekos, en in Springbok was dit R5 337,51.
Aldus FinScope se 2022-opname, ’n verteenwoordigende opname onder meer as 5 000 mense, het 23% van Suid-Afrikaners in huishoudings wat minder as R10 000 per maand verdien, gesê om kos te koop is die hoofrede waarom hulle geld leen. Potensieel beteken dit byna 6,5 miljoen volwasse Suid-Afrikaners moet geld leen om hul gesinne te voed.
Meer as 2 miljoen huishoudings het in 2021 gesê dat hulle honger ly, aldus Statistieke Suid-Afrika (SSA).
– Arisa Schamrel

