Inwoners van Kathu en omgewing kan hulself gereed kry vir ‘n fees, die eerste in sy soort, wat op Vrydag 7 November en Saterdag in dié dorp plaasvind.
Vermaaklikheidskunstenaars wat optree, stalletjiehouers met unieke produkte, plaaslike kuns, eetgoed wat ‘n mens met ‘n kerkbasaar vereenselwig en ‘n speelplek vir kinders word vir die Kalahari Kuier in Afrikaans Kunstefees saamgevoeg.
Dié fees, deur die Hervormde kerk Kathu, Postmasburg en Kuruman aangebied, vind op die Sivos-sportterrein plaas.
Ds. Joha-Lize Uys, leraar by dié gemeentes wat die Kombinasie-kerk genoem word, vertel dat sy aanvanklik ‘n sanger vir ‘n optrede wou reël. Dit het toe tot dié fees uitgebrei.
“Die idee is om ‘n platform vir kerke en niewinsgewende organisasies te skep waar hulle ‘n ekstra inkomste kan verdien. Al die kosstalletjies op die fees word deur hulle bedryf,” sê sy.
Die ander stalletjies is hoofsaaklik vir skeppers van unieke produkte en kleiner ondernemings.
Zilian Enslin, The TMC Band, Dillon Wigill, Early B, The Lebo Gang, GNT, Jac Coetzee, Christia Visser, Annemie van Huyssteen, Jaco Carstens, Jan Jan Jan, Louis Mostert en Droomsindroom sal optree.

Foto: Verskaf
Die rugbywedstryd van die Springbokke teen Frankryk word op ‘n groot skerm in die kuiertent vertoon.
Uys vertel dat unieke geskenke en interessante produkte − met Kersfees om die draai − by die onderskeie stalletjies te koop aangebied word.
Skryf jou Vellies in
Vir die Vellie-kompetisie kan deelnemers ‘n foto van hul gunsteling-paar vellies inskryf, en die publiek stem daarvoor.
Boereworsrolle, ribburgers, pap en kaiings, sosaties, kerrie-en-rys, tuisgemaakte lekkergoed, draai-aartappels, pannekoek, koeke, terte, nageregte en brode is van die eetgoed.
Meganiese bulritte vir oud en jonk word gebied. By Kinderland hou springkastele, ‘n glybaan, hindernisbaan, mini-treinritte en meer die jongspan besig, met oppassers wat teen betaling ‘n oog hou sodat ouers kan ontspan. Dié oppasdienste is op die twee dae tot 18:00 beskikbaar, waarna Kinderland steeds oop is, maar kinders dit onder toesig van ‘n ouer kan geniet.

Uys sê hulle wil kort ná die eerste fees reëlings vir volgende jaar se fees begin tref. Die organiseerders wil skole betrek, asook individue en organisasies met kuns en kultuur bemoeid. Dié geleentheid vervang nie kerkbasare nie.
Kontantvrye fees
Die fees, wat Vrydag om 14:00 begin en Saterdag om 10:00, is ‘n kontantvrye fees. Van die toegangskaartjies by die hek tot die produkte by die stalletjies − alles is slegs met bankkaarte betaalbaar.
Toegang vir Vrydag kos R75; vir Saterdag betaal ‘n volwassene R100, ‘n hoërskoolkind R80, ‘n laerskoolkind R50 en ‘n voorskoolse kind R20.
- Besoek Kalahari Kuier in Afrikaans Kunstefees op Facebook en KKAK.org.za vir die program en uitstaller-inligting.
LEES OOK: Eerste kunsteweek in Van Zylsrus: ‘Opwindend vanaf die eerste oomblik’


