Hoërskoolleerlinge het nog tyd tot Vrydag 26 Januarie om hulle vir ’n nuwe dramakompetisie in te skryf.

Foto: Unspash/Jon Tyson

Hoërskoolleerlinge wat droom van toneelspeel, of om in ’n rolprent op te tree of agter ’n mikrofoon te wees, het nog tyd tot Vrydag 26 Januarie om hulle vir die Proscenium-dramakompetisie in te skryf.

Talent, tegniese vermoëns en passie vir toneel is die enigste vereiste, en gr. 8- tot gr. 12-leerlinge wat enige amptelike Suid-Afrikaanse landstaal praat, kan hulle inskryf. Leerlinge neem individueel deel.

Hoërskoolleerlinge het nog tyd tot Vrydag 26 Januarie om hulle vir ’n nuwe dramakompetisie in te skryf.

Vir die uitdunronde moet ’n gedig en uittreksel uit ‘n prosawerk van eie keuse voorberei word. ’n Kort improvisasie, met die onderwerp deur die beoordelaars gegee, volg hierop.

Ná hierdie ronde sal die beoordelaars 60 deelnemers vir die volgende ronde aanwys.

Een, twee, drie rondes

Vir ronde een, doen ’n uittreksel of monoloog uit ’n toneelstuk wat nie langer as vyf minute duur nie. Die beoordelaars wys 30 deelnemers vir die tweede ronde aan. In dié ronde word die gedig en uittreksel uit ‘n prosawerk weer gedoen, waarna 16 deelnemers vir ronde drie gekies word.

Ronde drie bestaan uit die radio-oudisie by RSG se ateljees in Seepunt, die oorklankingsoudisie by Overklank-ateljees en deelnemers speel toneel op die stel van kykNET se sepie, Suidooster.

Ná hierdie ronde word agt deelnemers vir die vierde ronde aangewys, wat die eindronde is.

Eindronde

Hiervoor voer deelnemers ’n goed gebalanseerde program op, van maksimum 12 minute, met klem op verskeidenheid en wisseling in aanbieding. Die program kan ’n sentrale tema hê en daar mag van poësie, prosa, drama, sang, mimiek en kommentaar (skakelteks) gebruik gemaak word, indien nodig.

Voornemende deelnemers wat raad en leiding nodig het, kan die organiseerders kontak. Die organiseerders sal hulle dan in kontak met professionele mentors plaas.

Die uitdunrondes begin einde Februarie in verskeie sentra in die nege provinsies, waarna die eindronde van 9 tot 11 Mei in die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad sal plaasvind.

Die hoogtepunt waarna finaliste die meeste kan uitsien, is om ingesluit te word in die geselskap van ’n professionele verhoogproduksie wat by drie kunstefeeste opgevoer gaan word, naamlik die Toyota Woordfees, KKNK en die Suidoosterfees.

Sertifikate, medaljes en kontantpryse is op die spel, en RSG en kykNET kies uitblinkers om in ’n radiodrama te speel en ’n gasverskyning in ’n TV-sepie te maak. Overklank-ateljees gaan ’n finalis nooi om aan ’n oorklankingsprojek deel te neem.

Boonop kan gr. 12-finaliste aansoek doen vir ’n WOW-studiebeurs aan die Universiteit Stellenbosch (US), en ’n studiebeurs aan die Northlink-kollege is ook beskikbaar.

  • Inskrywing word aanlyn by proscenium.pro gedoen, teen R200.
  • Vir meer inligting, skryf aan info@proscenium.pro

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article