Kommer oor nuwe polio-gevalle in Afrika

Twee in Nigerië met polio gediagnoseer


Kimberley.– Die Noord-Kaapse polio-aktivis Dorothy-Anne Howitson sê sy is geskok oor die onlangse nuus dat twee kinders in die noorde van Nigerië onlangs met die siekte poliomiëlitis gediagnoseer is.
Die siekte was (volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie) in 1988 endemies aan 125 lande, maar kon dit met behulp van ’n intensiewe en omvattende inentingsprogram feitlik uitgeroei word.
Nigerië was tot en met die jongste voorvalle reeds die afgelope twee jaar vry van polio.
Volgens Howitson van Kimberley – wat as kind met polio gediagnoseer is en in 2014 deur die Internasionale Rotary-organisasie met ’n internasionale eerbewys vereer is vir haar stryd teen polio – wek die nuutste gevalle kommer.
Sy sê dat ’n persoon wat nie vir polio ingeënt is nie, vir ’n jaar ’n draer van die siekte wees en dit oordra aan ’n ander mens wat nie ingeënt is nie. 
“Baie Suid-Afrikaanse mense vlieg heen en weer Nigerië toe en Suid-Afrikaner kan ook ’n gevaar staan om die siekte op te doen,” sê Howison.
Volgens haar is dit moeilik om die verwoestende impak wat polio op mense se lewens het te verstaan indien jy dit nie eerstehands ervaar het nie.
“Die siekte raak ook die families van slagoffers en kan ’n wesenlike finansiële impak op gemeenskappe hê,” sê Howitson.
Sy het ’n beroep op mense gedoen om kinders teen die siekte inteënt.
“As ’n polio-oorwinnaar kan ek jou verseker dat jy nie hierdie siekte wil opdoen nie,” het Howitson gewaarsku.
Poliomiëlitis, as kinderverlamming of polio genoem, is ‘n gevaarlike en hoogsaansteeklike siekte wat verlamming veroorsaak.
Hoewel immunisasie teen polio vryelik beskikbaar en effektief is, is daar tans geen medikasie vir mense wat dit reeds opgedoen het nie. Die behandeling is daarop gemik om die persoon so gemaklik as moontlik te maak en die hersteltyd te versnel.
In die jongste voorvalle is ’n 15-jarige seun en ’n 2-jarige meisie van die digbebosde Borno-staat in die Noord-Ooste van Nigerië met polio gediagnoseer.
Die gebied het die afgelope paar jaar gereeld onder aanvalle van die terreurgroep Boko Haram deurgeloop.
Volgens Howitson is dit ’n welbekende feit dat die terreurgroep nie inentings toelaat nie.

You need to be Logged In to leave a comment.