Die lekkerte van die mooi onthou en die heimwee koester is van die lieflikste warmte wat ’n mens in die hart kan beleef.

Natuurlik is daar dae en tye wat almal van ons liewer wil vergeet.

Party van ons onthou ook sekere goed as mooi terwyl dit vir ander minder mooi kan wees, maar almal het iewers die warmte van mooi onthou.

Daardie gevoel van tuishoort, van terugdink, van veilig wees – en dinge wat geld nie kan koop nie.

So sê ek op ’n stadium hierdie wintervakansies laat my altyd verlang na die plaas tydens grootworddae van aartappels uithaal, lemoene eet, wag vir die winterson om alles warm te bak.

Ja, kry ek die antwoord terug: Ai, kinderjare.

En almal kan net iets byvoeg of saampraat of saam onthou. Vir die een is dit die son wat die koue breek, vir ’n ander die werk op die plaas, vir ’n ander is dit yslaag afhaal van waterkrippe of kaalvoet kraal toe draf.

’n Ander onthou die lekker van ’n perske van die boom af eet en sommiges koester die warm kombuis met ’n koolstoof.

Soveel van ons onthou die ketel wat heeltyd prut en die geure uit die kombuis wat ’n mens veel hongerder maak as wat ’n mens eintlik is.

Só sou ’n mens se gedagtes kan verloop en sou ’n mens heerlik kan saampraat.

Die lekkerte van oomblikke, mense, plekke onthou wat vir jou kosbaar was en is, maak sommer net die hart warm.

Koester die mooi onthou.

Dis spesiaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article