Mooigoed, Kersgoed, speelgoed en smulgoed is van die vreugdes wat besoekers aan vanjaar se Koeistalmark kan verwag.
Soos die vorige jare word dié mark tydens die jaarlike Kelrn MTB Classic-byeenkoms aangebied. Dit vind van Vrydag 25 Oktober tot Sondag op die plaas Holsdam buite Barkly-Wes plaas.
Op dié mark, netjies uitgelê in wat eens ’n koeistal was, word unieke handgemaakte produkte – wat kunswerke, geskenke, klere en meubels insluit – verkoop.
Besoekers kan ook kies en keur aan “stadige plaaskos” wat by talle stalletjies verkoop word.
Vermaak vir kinders is beskikbaar, en vermaaklikheidskunstenaars tree op. Boonop vind die fietsrenne- en veldwedlope waarvoor deelnemers hulle steeds kan inskryf, plaas.
’n Toutrekkampioenskap vind Saterdag van 10:00 tot 15:00 plaas.
Kenne en Joy de Kock van Kelrn Vervoer het dié geleentheid in 2011 op baie klein skaal begin aanbied om geld vir verskeie organisasies, wat onder meer na kinders sonder ’n familietuiste omsien, in te samel.
Ná ’n eerste geleentheid, waarmee R100 000 ingesamel is, het die De Kocks besluit om groot te droom. Verlede jaar is R1,5 miljoen ingesamel.
“Die groot voorreg is dat almal deelneem om vir hierdie kinders iets te beteken; om vir kinders hoop en liefde te skenk,” sê Kenne.
Van die smulgoed wat te koop aangebied word, is skaapvleis op die spit gaargemaak en op roosterkoek bedien, varksosaties, en bees- of hoendervleis in ’n wrap, taco of pita-broodjie. ’n Koffiestalletjie verkoop koue en warm drinkgoed, asook smoothies.
Geleenthede vir wynpassing vind plaas, en in die deli word onder meer beskuit, koekies, brosbrood, lekkergoed, souse, soute, en gegeurde en gedroogde produkte verkoop.
Kinders kan hul eie trap- of skopfietsie saambring en die mini-hindernisbaan aandurf. Daar is ook ponie- of treintjie-ritte vir kinders. Dié wat swemklere saamneem, kan in die swembad of op die waterglybaan baljaar terwyl die ouers ’n wakende oog hou.
Nick Badenhorst tree Vrydag om 14:00 op, en die biertent is van 16:00 tot 22:00 oop. Saterdag is die biertent van 10:00 tot 22:00 oop, met Badenhorst wat om 10:00 optree, Hilton Crest om 19:00 en Jak de Priester om 20:00.
- Die Koeistalmark is Vrydag van 14:00 tot 20:00 oop, Saterdag van 08:00 tot 20:00, en Sondag van 08:00 tot 14:00.
- Besoek kelrnmtb.net of Kelrn Mtb Classic op Facebook vir nog inligting,


