Nadat ons meer as 800 dae lank aan allerlei regulasies weens die Covid-19-pandemie blootgestel is, verdwyn dit toe sommer oornag. Sonder vooraf-aankondiging van ’n “familie-vergadering” vir die nasie.
Die een dag het die son oor ’n (merendeels) gemaskerde nasie gesak, net om die volgende oggend sy eerste strale oor ’n oopgesig-spulletjie te gooi.
Die vorige laatmiddag nog is maskertjies op hul plek neergesit – gereed vir raakvat die volgende oggend. Oornag moes die gewoonte gestaak word. Met ’n emosie wat aan ’n skuldgevoel grens, is ons sonder maskers werk toe; winkels toe; buitewêreld toe.
Maar dit is heerlik om die (winkel)lug weer oor die wange te voel, en ’n mens moet jouself kort-kort daaraan herinner dat jy nie meer oopmond moet gaap nie (agter die masker wat nie meer daar is nie).
Tog deins ’n mens terug vir maskerloses wat nies, hoes en wurgend keel skoonmaak sonder om die proses met ’n hand of die wegdraai van ’n kop af te skerm. In mega-sekondes sien ’n mens soos die bioniese man van ouds hoe die speekselpartikels deur die lug trek terwyl dit van allerlei virusse wemel.
’n Mens wonder ook oor diegene wat die afgelope 800 plus dae ’n fortuin uit maskers en reinigers gemaak het. Hoe gaan hulle hulself nou verryk?
’n Mens wil nie meer Covid-19-nuus hoor nie, maar dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, sê die publiek is mislei om te glo dat dit koebaai Meraai met Covid-19 is. Hy en ander is ook bekommerd oor inentings wat afgeneem het.
Ook dr. Angelique Coetzee, lid van Solidariteit se gilde vir gesondheidspraktisyns, waarsku teen ’n vals gevoel van veiligheid.
Hulle voorspel dat indien oor ’n maand of drie weer ’n variant opdaag wat baie gevaarlik is, dit verskriklik moeilik gaan wees om die bevolking te dwing om weer maskers te dra.
Eersdaags, wanneer maskers op uitverkoping is, kan ’n mens dalk maar nog ’n pak aanskaf . . .

