Ná verlede week se algemene verkiesing het die grootste politieke partye in die land slegs 14 dae ná die publikasie van die verkiesingsuitslae in die Staatskoerant om te besluit hoe ’n koalisieregering gaan lyk.
Die ANC het in die algemene verkiesing sy volstrekte meerderheid nasionaal verloor, en ook in die Noord-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal.
Koalisieregerings moet daarom ook in dié provinsies gevorm word. Weens hierdie rede is koalisiegesprekke tussen politieke partye ernstig aan die gang.
In die Noord-Kaap heers ’n hangstem omdat die ANC 15 van die 30 setels verwerf het, met die opposisiepartye wat saam 15 setels het.
Dit beteken die ANC moet met van die opposisiepartye ’n ooreenkoms aangaan indien hy wil regeer. Met so ’n ooreenkoms sal kompromieë aangegaan moet word voordat die sewende administrasie ingehuldig word.
Volgens Gert van der Westhuizen, politieke redakteur van Netwerk24, is koalisieregerings ’n simptoom van onbestendige tye waarin kiesers nie heeltemal met net een party tevrede is nie.
Hy berig voorts dat alle oë op Woensdag 5 Junie op die ANC se volgende skuif in die koalisie-skaakspel sal wees.
Dié party se nasionale uitvoerende komitee vergader dan en sal hopelik antwoorde gee, soos wat sy vereistes vir ’n koalisieooreenkoms is, met wie hy bereid is om saam te werk, en of pres. Cyril Ramaphosa die leier van ’n koalisieregering sal wees.


