Dié knoffelbrood word stuk-stuk gebreek, soos met nat beskuit.

Foto: Verskaf

Hoewel die skoolvakansie bykans verby is, is die somer steeds met ons, en dit bly ’n ideale tyd om buite te eet en geregte gepas vir ’n vleisbraaigeleentheid voor te berei.

Louise van Greunen, wat dié resep gedeel het, sê die knoffel­brood is heerlik saam met braaivleis, potjiekos of enige ander gereg. Die brood kan ook in ’n swartpot oor kole gebak word. Gaste breek dit stuk-stuk af, soos met nat beskuit.

Bestanddele

  • 1 kg witbrooddeeg
  • 250 g margarien
  • 5 ml sout
  • 1 klein houer geperste knoffel

Maak só

Voorverhit oond tot 180 °C.

Smelt en meng die margarien, knoffel en sout in ’n kastrol.

Strooi koekmeelblom op ’n broodplank. Strooi growwe sout oor die koekmeelblom.

Plaas die deeg op ’n broodplank en versprei eweredig. Strooi growwe sout oor die deeg.

Draai die deeg om. Sny dit met mes in vierkante soos wanneer jy deeg vir vetkoek voorberei.

Neem deegstukke een vir een met ’n knyptang en doop dit in warm knoffelsous in die kastrol op die stoof.

Plaas elke stuk deeg in ’n broodpan wat skuins staan. Wanneer die pan vol is, gooi die oorblywende knoffelsous oor die deeg in die broodpan. ’n Variasie van jalapenorissies, olywe, kaas, uie of soetrissies na smaak kan ook oorgestrooi word.

Laat staan die pan vir 10 tot 20 minute (die warm knoffelsous sal die deeg vinnig laat rys).

Sit broodpan in die oond en bak vir 30 minute. Keer die gaar brood uit die pan en sit dit voor.

Hanri Wondergem

You need to be Logged In to leave a comment.