’n Vrou is vir die eerste maal as die algehele wenner van die jaarlikse The Courier Guy Bloemhof Bonanza aangewys.
Reinette Barnard het met onder meer R100 000 huis toe gekeer nadat sy die wenkarp van 80 cm gevang het.
Die 23ste Bloemhof Bonanza het van 27 April tot 1 Mei by die Bloemhof-dam plaasgevind, en boot- en oewerhengel was toelaatbaar.
Barnard, ’n voormalige marathon-atleet wat die Comrades 11 keer en die Twee Oseane-marathon sewe keer gehardloop het, het in 2019 aan haar eerste Bloemhof Bonanza deelgeneem. Haar man, André, het haar leer hengel. Tydens die afgelope toernooi was hulle drie nagte en vier dae lank op ’n boot.
“Die vis het maar swak gebyt en ek was moedeloos verby. Ek het my laaste mieliebom opgesit met ’n Spiderman-floatie en dit het seker so halfuur gelê toe byt daar ’n groot karp. Toe ek die karp sien, het ek geweet dis die wenvis,” vertel sy.
Johan Prinsloo was tweede in die karp-afdeling, met ’n karp van 79,6 cm, en Jacques Venter derde met ’n karp van 75,2 cm.
In die baber-afdeling is Heinrich Kleyn die wenner met ’n baber van 142,2 cm.
Attie McLean was tweede, met ’n baber van 137 cm, en kort op sy hakke was Quinten Roux met ’n barber van 136,2 cm.
Meetstelsel meer voordelig
Die hengeltoernooi word jaarliks deur die Eco Care Trust aangebied, ’n niewinsgewende organisasie gemoeid met die bewaring van varswater-ekosisteme. Behalwe dié toernooi, bied die trust ook die Vaaldam en die Roodekopjes Bonanza aan, afhangend van die beskikbaarheid van borgskappe.
The Courier Guy is die rugsteunborg vir die Bloemhof Bonanza, en Bernard Venter, hooforganiseerder, sê ’n groot borgskap soos dié is onontbeerlik, met kleiner borge wat verdere steun verskaf.
Venter vertel dat die toernooi vir ’n aantal jare reeds eerder die meet- as die inweegstelsel gebruik, en sê uit ’n organiserings- en logistieke oogpunt is dit veel eenvoudiger.
Tydens die kompetisie kan hengelaars voortdurend op ’n app sien wat die lengte van die grootste vangste is. Dit wat hulle gevang het, kan hulle self meet, en slegs die visse met die tien toplengtes moet deur ’n beampte geverifieer word. Dié metode help ook dat hengelaars nie na ’n sentrale inweegpunt hoef te ry en daar in ’n ry te staan nie.
Oor die eerste vrou wat dié toernooi gewen het, sê Venter dit bewys dat hengel oor vaardigheid (en ’n bietjie geluk) gaan, eerder as oor krag.
Vir meer inligting, en wat nog deur Eco Care Trust aangebied word, besoek Eco Care Bonanza op Facebook, of ecocare.org.za.


