Dit was die geklop vanuit die binnekant van ’n motor se bagasiebak wat daartoe gelei het dat twee kleuters van Jan Kempdorp uiteindelik dae nadat hulle vermis geraak het, gekry is.

Die twee seuntjies wat saam verdwyn het, het glo elke dag saam gespeel. Dit is steeds onseker hoe Kokeletso Motaung (3) en Itumeleng Moagi (4) op Saterdagmiddag 16 Maart verdwyn het.

Frederik van Zyl, ’n boer wat in die dorp se veiligheidstrukture dien, het die kinders op Maandag 18 Maart in die bagasiebak van ’n motor gevind.

Mense wat naby die toneel was, het glo ’n geklop vanaf die motor gehoor. Die motor was in ’n motorwerktuig­kundige se erf in die Valspan- informele nedersetting. Hulle het die veiligheidstrukture ontbied.

Van Zyl het omstreeks 15:00 opgedaag en die motor se bagasiebak oopgemaak.

Kokeletso was toe reeds dood. Van Zyl het Itumeleng uit die bagasiebak gehaal en die kind is na ’n hospitaal gebring.

Itumeleng is reeds ontslaan, maar is glo so getraumatiseer dat hy nie praat nie, sê kol. Cherelle Ehlers, polisie­woordvoerder.

Die kinders is Saterdag omstreeks 14:30 deur hul onderskeie ouers as vermis aangemeld en die polisie en die gemeenskap het onmiddellik na die kinders begin soek, sê Ehlers.

Enigiemand wat inligting oor die voorval het, word versoek om lt.kol. Elia Khonkhobe by 082-495-4686 te bel. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.