“Hierdie kinders soek aandag en liefde. Hulle wil weet: Ek gaan nie honger wees nie; ek gaan nie geweld sien nie. Hulle kom hier en is só verskriklik honger.”
Só vertel Leza Graaff, stigter en beheerraadvoorsitter van Destiny House in Kimberley.
Destiny House, gestig in Oktober 2016, is ’n tydelike plek van veiligheid vir babas en kleuters wat kragtens ’n hofbevel van hul ouers weggeneem is. Dié hofbevel word deur maatskaplike werkers aangevra.
Kinders vanuit Kimberley, asook omliggende dorpe en gebiede, word ’n vasgestelde tydperk hier geplaas met die hoop dat huislike omstandighede só sal verbeter dat die kind teruggeplaas kan word, of met pleegsorg as uiteinde.
“Vandat Destiny House begin is, is nog nie een kind wat hier geplaas is, terug na die ouers nie. Pleegsorg werk wel,” sê Graaff.
Die misbruik van drank en dwelms, met gepaardgaande geweld en verwaarlosing, asook prostitusie en die R350-kindertoelaag wat die ouers vir hul eie verslawings gebruik, is van die hoofredes waarom die kinders uit hul ouerhuise weggeneem word.
Een van die kleuters hier was langer as twee dae in ’n plakkershut toegesluit. Die bure het die kind hoor huil, maar het gedink die ma is daar. Die gehuil het nie opgehou nie en hulle het die plakkershut oopgebreek en die kind alleen daar gekry.
“Ons het ‘seisoene’ hier,” sê Charné Bennett, ’n maatskaplike werker in private praktyk wat by Destiny House betrokke is.
“Desembers is ons oorvol; die polisie bel dag en nag op soek na plek vir kinders wat van die ouers weggevat is. Paasnaweek is ons vol; ook met die wisseling van seisoene.
“As ouers ’n spesifieke tydperk lank geen kontak met hul kinders maak nie, mag die kinders vir aanneming beskikbaar gestel word,” verduidelik Bennett.
Graaff beklemtoon dat hulle geensins kontak vanaf die ouers weerhou nie; hulle mag nie. Die meeste ouers maak egter weinig tot geen kontak. Van dié wat wel kontak maak, skep ’n verwagting by die kind. Die kind wag heeltyd vir dit wat in die vooruitsig gestel is – wat nooit gebeur nie.
Een kind wat reeds drie jaar in Destiny House is, se ma het nog slegs twee maal kontak gemaak.
“Boonop faal die aannemingstelsel ons,” sê Bennett.
Aannemingsprosesse duur geweldig lank, en die meeste mense wil ’n baba aanneem en nie ’n ouer kind nie. Bennett en Graaff, albei heeltyds in ander beroepe, is in die proses om Destiny House as ’n kindersorgsentrum – of ’n “Child Youth Care Centre”, genoem CYCC – te registreer. Dié registrasie sal beteken dat hulle huisvesting aan veel meer kinders in die ruim huis kan bied.
“Ons wil so graag hierdie kinders in huise kry,” sê Graaff oor die ideale doelwit dat ’n kind in ’n stabiele huis kan grootword.
“Kom kyk wat ons doen. Kom raak betrokke. Hier is ’n groot behoefte,” nooi sy.
Die eiendom waarop die huis geleë is, is geborg, “en die sentrum bestaan op blessings en skenkings,” sê Graaff en bedank almal wat reeds betrokke is.
Omdat Destiny House algeheel van skenkings afhanklik is, bestaan uitdagings egter wel. Dit wissel van die behoefte aan vervoergeleenthede tot uitdagings soos ’n ysige babakamer wanneer beurtkrag plaasvind; om die dag-tot-dag en maandelikse uitgawes te delg, wat die salarisse van die inwonende huismoeders insluit; asook instandhouding.
Artikels en ander benodigdhede wat altyd as skenkings welkom is, is onder meer speelgoed en klere vir babas en kleuters tot ses jaar; weggooidoeke (nr. 4 en nr. 5); kosprodukte; toiletware; en beddegoed. Skenkings kan by Destiny House by Schmidtsdriftweg 21B in Rhodesdene afgelaai word. Bel Graaff by 083-697-9484 of Bennett by 072-515-5693 vir meer inligting.


