Die hoofseun van die Futurum Akademie in Tadcaster by Jan Kempdorp is as die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad se 42ste Matrikulant van die jaar aangewys.
“Ek het nie gedink ek staan ’n kans nie. Ek kom van ’n klein dorpie, ’n klein skooltjie en uit ’n klein klas,” sê Michael de Bruyn, ’n voornemende mediese student.
Op die geleentheid op 10 Oktober net buite Bloemfontein het Michael sy ouers bedank en genoem hulle moes hare op hul tande gehad het, want hy was nie ’n maklike kind om groot te maak nie.
“Ek was baie vol fiemies en het probleme met teksture en smake. Ek het vier jaar gelede eers leer vleis eet. Ek gril vir alles. Boonop is ek moeilik om mee huis te hou!”
Hoe gemaak as jy ’n dokter wil word, maar gril vir alles?
“Vreemd genoeg kry ek dit reg om ’n onderskeid te tref.
“Boonop werk ek al van gr. 9 af by ons huisdokter, dr. Louise van Niekerk, se spreekkamer. Sy het my opsetlik in moeilike posisies geplaas waar ek met goed soos slegte wonde moes werk.”
Michael het ’n vlak 2-noodhulpkwalifikasie en is lid van die skool se noodhulpspan, bestaande uit onderwysers en leerlinge.
In Van Niekerk se spreekkamer het hy besef ’n dokter is ’n baken van hoop.
“In ons gemeenskap is dit meestal plaaswerkers en huishulpe wat hier dokter toe kom. Hulle sit in die spreekkamer met die hoop dat môre ’n beter dag gaan wees. Dit is asof die mense gesond word wanneer die dokter instap – asof hulle weet hulle het ’n beter toekoms danksy die dokter. Toe het ek besluit om ’n dokter te word.”
Hy vertel die verhoog, gemeenskapsteater en toesprake (hy is ’n provinsiale redenaar) sal altyd ’n passie wees, al gaan hy medies studeer. Hy hou ook daarvan om te bak, en om stories, kortverhale en gedigte te skryf.
“As ek op ’n verhoog is, is dit asof ek energie uit die gehoor absorbeer.”




