Klagte teen polisie neem drasties toe

Die Noord-Kaap het van die aanvang van die inperkingstyd op 26 Maart tot 5 Mei persentasie­gewys die derde grootste toename in die land in klagte teen die polisie getoon.


Die Noord-Kaap het van die aanvang van die inperkingstyd op 26 Maart tot 5 Mei persentasie­gewys die derde grootste toename in die land in klagte teen die polisie getoon.

Dit is in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Altesaam 53% meer klagte teen die polisie in dié provinsie is vanjaar ingedien.

Van die 828 klagte wat landwyd teen die polisie ingedien is, hou 376 verband met die inperkings­regulasies.

Dié statistieke is Vrydag (08/05) bekend gemaak op ’n gesamentlike sitting van die parlement se portefeuljekomitee vir polisie en die komitee oor sekuriteit en justisie.

In dié tydperk in die Noord-Kaap is 52 klagte teen die polisie ingedien: een van beweerde manslag of moord, drie oor die afvuur van wapens, een van verkragting en 47 van beweerde aanranding deur polisiebeamptes.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat moet dié klagte ondersoek.

Volgens Andrew Whitfield, DA-LP en dié party se woordvoerder oor polisiesake, gaan die DA ’n mosie van openbare belang by die parlement indien vir ’n debat oor die dringende demilitarisering van die polisie.

“Die witskrif op polisiëring en die Nasionale Ontwikkelingsplan is duidelik dat daar ’n behoefte is om die polisie te demilitariseer, maar Bheki Cele, die minister van polisie, ignoreer dié dringende behoefte.”

Whitfield sê Cele moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die toename in polisie-wreedheid in die inperkingstyd.

“Die portefeuljekomitee oor polisie het Vrydag gehoor daar was landwyd 32% meer klagte as in dieselfde tyd verlede jaar.”

Dit is 200 meer klagte as verlede jaar, en sluit klagte in oor mense wat na bewering weens polisieoptrede dood is, die afvuur van vuurwapens, beweerde aanranding en korrupsie.

Altesaam 50 mense het na bewering in die inperkingstyd tot 5 Mei weens polisie-optrede of in aanhouding gesterf.

“Dit volg op herhaalde versoeke deur die president dat daar nie uitermatige geweld vir die afdwing van inperkingsmaatreëls toegepas mag word nie,” sê Whitfield.

You need to be Logged In to leave a comment.