Daar is niks lekkerder as ’n beker stomende sop en ’n sny warm, varsgebakte brood om jou teen die koue te pantser nie.
Ongelukkig is dit nie vir almal beskore nie. Daarom het Lydia Cock kinderharte in Upington op Mandeladag (18/07) verbly.
Terwyl die meeste mense dié wintersdag warm en knus kon bly, het Cock, ’n vrywilliger wat geregistreer is om na straatkinders om te sien, tesame met die polisie en borge, na behoeftiges uitgereik.
Hulle het meer as 300 minderbevoorregtes met sop en vetkoek verras.
Sy sê straatkinders het diep in haar hart gekruip.
“Om op Mandeladag te kon sien hoe hulle lag en vir ’n rukkie van hul moeilike omstandighede vergeet, maak dit die moeite werd.”
Cock wil aanhou om ’n verskil in hul lewe te maak en is besig om die Imbizo Safe Haven op die been te kry.
Dit sal ’n veilige hawe vir straatkinders wees.
“Ek wil vir hulle ’n liefdevolle huis gee wat die meeste van hulle tot nou toe nog nie gehad het nie. Ek wil hul menswees aan hulle probeer teruggee.”
Sy wil dié kinders help om terug te keer skool toe, vir hulle vaardighede aan te leer en ook opleiding te bied.