Die beskuldigdes in die beskuldigdebank is, van links, Waybril Gertse, Graham Gertse, Vernit Priega, Alvonsus Visagie en André Magerman. Hulle staan tereg op aanklag van verkragting van die meisie sedert sy agt jaar oud is.

Foto: Verskaf

Pofadder

Die beskuldigdes in die beskuldigdebank is, van links, Waybril Gertse, Graham Gertse, Vernit Priega, Alvonsus Visagie en André Magerman. Hulle staan tereg op aanklag van verkragting van die meisie sedert sy agt jaar oud is.

Vyf mans van Pofadder wat skuld ontken het op verskeie aanklagte van die verkragting van ’n weesmeisie sedert haar agtste jaar, se verhoor sal in September in die rondgaande hof in Upington voortgaan.

Waybril Gertse (31), Graham Gertse (21), Vernit Priega (39), Alvonsus Visagie (50) en André Magerman (35) staan tereg op ses aanklagte. Hulle het na bewering die meisie gesamentlik of afsonderlik van Februarie 2017 tot Januarie 2020 in verskillende huise in Pofadder verkrag. Die vyf mans is glo vriende.

Met die aanvang van die verhoor verlede week het ’n dokter en twee maatskaplike werkers getuig. Dr. Petro van Zyl, kliniese maatskaplike werker, sal haar getuienis in die volgende hofsitting voortsit.

Speursers. Rowen Nortjé, van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe in Pofadder, is die ondersoekbeampte.

In die opsomming van wesentlike feite in die akte van beskuldiging voer die staat aan dat die meisie in 2014 wees gelaat is nadat haar ma dood is. Sy is deur haar ouma en tante in haar ouma se huis versorg. Haar ouma en tante het onderskeidelik in 2015 en 2016 gesterf en sy is sonder ’n pleegouer in die huis gelaat.

Die twee Gertse-broers het by die huis ingetrek. In Februarie 2017 is die meisie in iemand se pleegsorg geplaas omdat sy verwaarloos was.

Die meisie het soms nog na haar ouma se huis gegaan. Op een van die geleenthede het Graham Gertse haar na bewering op twee wyses verkrag toe sy klere by die huis gaan haal het. Die meisie het die voorval dadelik by haar pleegma aangemeld, maar die vrou het dit na bewering geïgnoreer en afgemaak.

Op ’n ander geleentheid het Waybril Gertse haar glo ook verkrag.

Die meisie is uit die sorg van haar pleegma geneem en in die sorg van Priega se ma geplaas, by wie se huis hy haar na bewering verkrag het.

’n Ander keer het Visagie die meisie na bewering seksueel aangerand toe sy ’n vriendin besoek het. Magerman het na bewering op sy beurt die meisie verkrag nadat sy by iemand gaan kuier het wat in sy huis bly.

Op een geleentheid het die eerste vier beskuldigdes haar na bewering by haar ouma se huis verkrag.

Die meisie het die voorvalle by haar onderwyseres aangemeld, maar hulle kon haar nie bystaan nie.

Uiteindelik het die polisie en ’n maatskaplike werker ingegryp nadat die meisie in Desember 2019 die voorvalle by haar oorlede ma se niggie aangemeld het. 

Die verhoor voor waarnemende regter Magafe Ramaepadi word op 16 September hervat.

You need to be Logged In to leave a comment.