Ondanks ’n skaatsplankrybaan van wêreldgehalte wat gesluit was en geen geldelike ondersteuning van die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (Dedat) nie, het ’n skaatsplankry-klub van Kimberley onlangs sewe medaljes op die Suid-Afrikaanse Rollersport-kampioenskapsbyeenkoms in Johannesburg gewen.
Die jong Noord-Kapenaars kon ’n tydperk lank nie by die skaatsplankrybaan in Kimberley oefen nie weens ’n gebrek aan onderhoud by die baan. Hul drome om wêreldkampioene te word, was aan die vervaag.
Tog het die gebrek aan oefenplek en staatsondersteuning hulle nie gekeer nie.
Hulle het die Urbanhope Skateboarding Club gestig om jong skaatsplankryers te help en het in die strate en by die kampus van die Sol Plaatjie-universiteit (SPU) geoefen.
Sunitha Klaaste, voorsitter, sê die klub is by Suid-Afrikaanse Rollersport affilieer.
“Ons affiliasie beteken ons kan aan toernooie deelneem waarin deelnemers punte op die rangleer opbou om hulself ook internasionaal te laat geld. Ons het tydens die naweek van 16 Maart sewe medaljes – goud, silwer en brons – op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms in Gauteng (vir 2023) verower. Die 2024-kampioenskap vind later vanjaar plaas.
“Ons 13 atlete het in Johannesburg aan die byeenkoms by die The Flow Skatepark deelgeneem. Dit was so amper of ons kon nie gaan nie. Dedat het ondanks vele aansoeke nie vir ons geld gegee vir ons vervoer, verblyf, kos, T-hemde en inskryfgeld nie. Ons het op geldelike skenkings gesteun, maar is weens min geld gedwing om minder atlete saam te vat.”
Die atlete wat medaljes verower het, is Kaone Raadt, (goud in “street” vir o.18-seuns), Boipelo Awuah (goud in “open street” vir vroue), Paballo Dipico (brons in “street” vir o.18-seuns), Kayden Klaaste (goud in “street” vir o.16-seuns), Keathen Klaaste (brons in “street” vir o.16-seuns), Natalie Bramley (silwer in “street” vir vroue, ope; en brons in “park” vir vroue, ope).
Die ander bestuurslede van Urbanhope Skateboarding is Adrian Joemat, Leviera Cunningham en Aydon Norman, afrigter.
Klaaste se seuns, die tweeling Keathen en Kayden, sê hulle is gek na skaatsplankry.
Keathen sê hulle wil nie by die huis sit en niks doen nie.
“Skaatsplankry help om my gedagtes skoon te maak, om myself vir die lewe voor te brei en die uitdagings te hanteer.”
Kayden sê hoewel hy op ’n tydstip nie meer sou skaats ná ’n ongeluk waarin hy sy gewrigte gebreek het nie, is dit heerlik om saam met sy broer te skaats.
“Skaatsplankry hou my in ’n veilige plek.”
Die departement het jare gelede miljoene bestee om die Skateboard Plaza vir wêreldkampioenskapbyeenkomste in Kimberley te bou. Die internasionale Maloof Money Cup- en Diamond Cup-skaatsplankrykampioenskap het daar plaasgevind.
Die projek is in 2019 in omstredenheid gehul weens bewerings van tenderbedrog vir bouwerk by die skaatsplankrybane, swak bouwerk en onreëlmatige uitgawes wat tot die afdanking van twee hooggeplaaste amptenare gelei het. Daarna is die park tydelik toegemaak.
Gedeeltes van die baan is aan die einde van Maart geopen, met herstelwerk wat nog plaasvind.


