Enya Louw (links) en Madison Mandy met hul gradeplegtigheid in Dubai.

Foto: Verskaf

’n Oudleerling van die Kimberley Girls’ High School, en nog een van die Hoërskool Noord-Kaap, vlieg deesdae hoog oor die oseane van die wêreld nadat hulle onlangs as lugwaardinne vir die Emirates-lugredery gekwalifiseer het ná sewe maande se opleiding.

Madison Mandy, oudleerling van Kimberley Girls’ High, en Enya Louw, oudleerling van Noord-Kaap, is na dese gesoute reisigers en lugwaardin­ne.

Mandy sê haar werk is glansryk en dit is heerlik om met die mooiste uniform deur lughawens te loop.

“Dit is ook ’n moeilike beroep waarin jy baie moeg word weens gebrek aan slaap en waarin ver­skillende tydsones die vlugvoosheid vererger.”

Mandy het ná skool aanlyn kursusse in grafiese ontwerp voltooi en by ’n restaurant en selfoondiens­verskaffer gewerk waar sy baie ondervinding in klantediens opgedoen het.

Uit meer as 100 aansoeke gekies
Soos Louw het Mandy in Desember verlede jaar op ’n advertensie van Emirates reageer dat dié lugredery na Suid-Afrikaners soek wat as lugwaardinne kan werk. Hulle is twee van 11 mense wat uit meer as 100 gekies is om na Johannesburg te gaan.

Mandy vertel hulle het onderhoude afgelê en aan groepaktiwiteite deelgeneem, waar sy Louw ontmoet het. Hulle met mekaar nie voorheen in Kimberley geken nie.

Dit het na ’n lang twee weke gevoel voordat Mandy gehoor het sy was suksesvol.

“Kort daarna het ek die vereiste papierwerk voltooi en mediese toetse ondergaan om te toon dat ek medies geskik en gesond is. Ek het net twee weke gehad om gereed te maak vir die verhuising na Dubai, waar ek nou woon. Dit is ’n verwelkomende en veilige stad waarin jy enige tyd van die dag veilig kan beweeg. Die stad slaap nooit nie.”

Die opleiding het maande geduur.

Madison Mandy pas nadat sy as ’n lugwaardin vir die Emirates-lugredery gekwalifiseer het.

“Ek was reeds in Australië, Thailand, Zimbabwe, Suid-Afrika en Europese stede. My gunstelingstad is Parys, waar ek die Eiffeltoring in lewende lywe kan aanskou.”

Sy sê hulle kan enigiets tussen 24 en 50 uur by ’n bestemming oorbly, en hulle het dan die geleentheid om dit te verken.

“Ek word betaal om te reis. Ons het baie voordele, soos reistoelae en betaling van verblyfkoste.”

Louw, wat ’n sielkundegraad het en aan ’n honneursgraad werk, wou nog altyd haar horisonne verbreed.

“Ek het as ’n kantoorbestuurder in Kimberley gewerk, maar wou iets nuuts probeer en persoonlik groei. Ek het op die ingewing van die oomblik aansoek gedoen.

“Die opleiding was moeilik en ’n groot aanpassing, maar dit was die moeite werd. Dit was wonderlik dat my ouers in Dubai kon wees toe ons gekwalifiseer het.

Enya Louw saam haar ouers, Nico en Kittie Louw, by haar graduasie in Dubai.

“Die verlange huis toe is erg, en dis moeilik om ’n sosiale lewe en oefenroetine te volg.

“Ek kan nou begin kies waarheen ek wil vlieg. My droom om in Venesië pizza te eet en wit wyn te geniet, het waar geword; met Rome, Parys en Nice my volgende bestemmings. Ek wil ook graag na Texas in Amerika gaan.

“Terwyl Emirates my drome waar maak, leer ek meer van ander tradisies, kulture en wêrelddele,” sê Louw.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article