Minette Kruger op die wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir gemengde gevegskuns wat onlangs in Aboe Dhabi aangebied is.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Minette Kruger, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, het op ’n onlangse wêreldkampioenskaps­byeenkoms ’n silwermedalje in gemengde gevegskuns verower.

Sy het op 20 Augustus aan die International Mixed Martial Arts Federation (IMMAF) se ­byeenkoms in Aboe Dhabi deelgeneem, waar sy haar land as Suid-Afrika se o.18-vroue­kampioen verteenwoordig het.

Die Suid-Afrikaanse span het uit vier meisies en 16 seuns bestaan, en die meisies het altesaam een goue, een silwer- en twee bronsmedaljes gewen.

Die span het die negende plek behaal, uit 41 lande wat meegeding het.

Die 16-jarige Minette is, sover bekend, die eerste vrou tot nog toe in Suid-Afrika om vir deelname aan ’n wêreld­kampioenskap in stoei, asook dié van gemengde gevegskuns, te kwalifiseer.

Die ­byeenkoms in stoei het van 17 Julie tot 3 Augustus in Rome, Italië, plaasgevind. Hier was Minette 17de in die o.17-afdeling. Deelnemers aan dié toernooi was van 51 lande afkomstig.

You need to be Logged In to leave a comment.