Die ANC het weer wyk 1, in die tussenverkiesing van Woensdag 23 Julie in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, met ʼn stempersentasie van byna 43% oorgeneem. Dié party het dit in 2023 verloor nadat sy destydse raadslid na die PA oorgeloop het.
In die daaropvolgende tussenverkiesing het die PA die wyk oorgeneem, totdat sy leier Gayton McKenzie vroeër vanjaar vir Johan Loff, sy eie wyksraadslid, die trekpas gegee het. Dit het ’n tussenverkiesing veroorsaak.
Loff was baie bitter oor die behandeling wat hy van McKenzie gekry het, wat hom op ʼn regstreekse uitsending op Facebook afgedank en hom ʼn “ding” genoem het. Volgens McKenzie het hy Loff afgedank omdat hy drie raadsvergaderings misgeloop het.
McKenzie was vol selfvertroue dat hulle die wyk in verlede week se tussenverkiesing sou behou.
Kort nadat die tussenverkiesing uitgeroep is, het die ANC-beheerde provinsiale regering meer as tien regeringsprogramme en byeenkomste in Platfontein en Roodepan gehou wat in wyk 1 val.
Die ANC het in die tussenverkiesing 42,8% met 1 414 stemme verkry, teenoor die PA se 38,5% wat 1 270 stemme verteenwoordig. Die DA het 16,2% met 532 stemme verkry.
Rosie Ludick is die nuwe ANC-wyksraadlid.
‘McKenzie het sy hand oorspeel’
Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, het McKenzie dié keer sy hand oorspeel en moet hy die skuld vir die verlies dra.
“Daar is ‘n geskiedenis om hom van konflik en beweerde korrupsie. McKenzie is tipe van ‘n kultusfiguur. Hy doen vir bruin mense wat Julius Malema vir swart mense doen. In die proses eien McKenzie homself bepaalde regte toe.
“Dis duidelik dat mense in Kimberley hul leierskap tot verantwoording geroep het. Die wittebrood van die PA in die betrokke wyk is nou verby ná die aanvanklike welslae by die stembus.
“Die DA se vertoning in die tussenverkiesing toon dat koalisiepolitiek en koalisie-samewerking toenemend belangrik word om meerderhede te bewerkstellig. Partye sal voor die volgende verkiesings bepaalde strategiese ooreenkomste moet sluit as hulle toepaslik wil bly. Die ontwikkeling van koalisies is swak gedefinieer. Onstabiliteit op vele vlakke vererger dit.
“Die ANC is seker geweldig tevrede met die uitslag, veral omdat hulle steun in ‘n oorheersend bruin omgewing van die PA weggeneem het.
“Tog is die Noord-Kaapse ANC wat 49% in die onlangse provinsiale verkiesing behaal het, bekommerd. Ek kom agter, ook in Noordwes, die ANC is reeds besig om op vele fronte te mobiliseer vir die 2026-’27 plaaslike verkiesing.
“Die ANC deel nie graag mag nie. Noudat hulle die meerderheid in die raad het, sal hulle nie rem aandraai om hul magte te gebruik nie. Raadsbesluite kan nou deurgejaag word. Toegang tot strategiese hulpbronne in die munisipaliteit is makliker.”
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder
“Die ANC is in geldelike knyp. Sy buitelandse bondgenote gee nie meer so geredelik geld nie en hul steunverlies by die stembus die afgelope 20 jaar veroorsaak ook dat hulle minder regeringsgeld kry,” sê Duvenhage.
Nuwe wyksraadslid het groot planne
Ludick, as nuwe wyksraadslid, sê sy het groot planne om ʼn effektiewe wykskomitee saam te stel wat kundig is met sake soos misdaadbekamping en beter gesondheidsdienste.
“Ons inwoners ly erg onder kabeldiefstal en dwelmmisbruik. Ek wil uitvind wie ons jeugdiges in die wyk is, en hoe ons hulle diensbaar kan maak en werksgeleenthede help vind.”

Sy sê die swak infrastruktuur by die Roodepan-munisipale woonstelle is ʼn groot fokus.
“Ons het reeds begin met opknapping. Die nuwe regeringshuise wat gebou sal word, sal aan inwoners van die woonstelle beter behuising verskaf.
“Ons moet eers die foutiewe rioolpompe en -pype regmaak. Die opknapping van die Homevale-watersuiweringsaanleg is baie belangrik. Ek kyk na die begroting en samel inligting in vir voorstelle wat op die raadsvergadering bespreek moet word.
“Ek vra dat mense geduldig moet wees, ek sal alles vir die inwoners doen. Ons moet ophou om onder mekaar rusie te maak, daarom gaan ek binnekort ʼn openbare vergadering hou sodat ons in vrede kan saamwerk en vooruitgaan.”
Wyk 1 oorval met programme
Teen 8 Julie vanjaar het die Noord-Kaapse Regering dié programme in Roodepan en Platfontein aangebied, met nog wat daarna gevolg het:
- Die Noord-Kaapse regering het sy basiese onderwys-indiensnemingsinisiatief op 20 Junie by die Laerskool Roodepan van stapel gestuur.
- Die provinsie se Jeugdagviering is op 16 Junie by die Laerskool Lucretia, ook in Roodepan, gehou.
- Die Sol Plaatje-munisipaliteit en die departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling het Harvestime Park in Roodepan op 20 Junie skoongemaak om die “rol van die jeug in landbou en landelike ontwikkeling” te beklemtoon. Gratis veeartsenykundige dienste is aangebied en ‘n jeugmarkdag is beplan.
- Op 27 Junie is die “Youth Voices to Take Centre Stage”-geleentheid tydens die “Platfontein Social Cohesion Dialogue” aangebied. Die departement van sport, kuns en kultuur het die Jeugmaand maatskaplike samehorigheidsdialoog by die !XunKhwesa Gekombineerde Skool in Platfontein aangebied in samewerking met die !Khu- en Khwe-gemeenskappe.
- Die LUR vir landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Mase Manopole, het op 4 Julie ‘n omvattende voedselsekerheidsprogram in Roodepan gelei. Die inisiatief sluit die vestiging van voedseltuine en die oorhandiging van tuinmaaktoerusting aan geselekteerde benadeelde instellings in.
- Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid het op 9 Julie ‘n gesondheids- en welstandstaptog vanaf die Roodepan-polisiestasie na die Dr. Torres-kliniek, Roodepan, adverteer. Die beplande program het “gratis” gesondheidsondersoeke (bloeddruk, diabetes, MIV-toetsing), energieke aërobiese sessies, gesondheidswenke van gesondheidsorgkundiges, gemeenskapsstapaktiwiteite en gesondheidsinligting oor chroniese siektebestuur ingesluit. Die geleentheid is later kanselleer.
- Op 27 Junie het die premier, dr. Zamani Saul; die LUR vir Coghsta, Bentley Vass; en die LUR vir paaie en openbare werke, Fufe Makatong, ‘n aangestelde kontrakteur aan Roodepan bekendgestel as deel van die R1 miljard-behuisingsprojekte in Jacksonville, Roodepan. Met die voltooiing van die dorpsbeplanning behels die tweede fase die installering van siviele dienste, insluitend riolering, water, elektrisiteit, stormwaterdreinering en geplaveide of geteerde paaie.
- Op 28 Junie het die premier saam met die LUR’e Mangaliso Matika en Vass; die uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Barbara Bartlett; en die speaker Dipuo Peters, die begrafnis van wyle hoofman Kamamma Mukua in Platfontein bygewoon.
- By ‘n ander geleentheid het Saul R250 000 geskenk om die !XunKhwesa Gekombineerde Skool se matriekleerlinge te ondersteun. In hul advertensies sê die Noord-Kaapse regering dat die “kragtige ingryping meer as net geldelik is, dit is ‘n mosie van vertroue in die potensiaal van Platfontein se jeug.”
- Saul het, “as ‘n gebaar van waardering,” ook tyd deurgebring met vroeë kinderontwikkeling (VKO) praktisyns in Platfontein, en het hom verbind tot ‘n eenmalige skenking van R4 000 aan elk van die 21 VKO-praktisyns om “hul belangrike werk te ondersteun”.
- Saul het, saam met die LUR vir onderwys, Abraham Vosloo, die basiese onderwys werkinisiatief by die Laerskool Roodepan “inisieer”. Dit bied werksgeleenthede vir 4 838 jongmense in verskeie rolle soos leerplan-assistente, e-kaders, leeskampioene, sorg- en ondersteuningsassistente, sportverrykingsassistente, en laboratorium- en werkswinkelassistente.
- ‘n Bykomende R70 000 is aan tien skole elk geskenk om leermateriaal, instandhouding en infrastruktuurverbeterings te ondersteun.



You must be logged in to post a comment.