Nog lesse is geleer nadat die beplande waterafsluiting van vier dae van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley na 11 dae verleng is weens die ontdekking van ’n enorme waterlek wat ontstaan het nadat die watertoevoer met die voltooiing van die aanvanklike herstelwerk aangesluit is.
Thapelo Matlala, stadsbestuurder en sy span, het op Donderdag 11 April ’n enorme lekplek op die 900 mm-deursnit grootmaattoevoerpyplyn naby Galeshewe ontdek. Die lekplek is te midde van deurdringende reën in die verlengde hersteltydperk reggemaak, en ander probleme wat opgeduik het, het ook aandag gekry.
Dit kom nadat die munisipaliteit nie weer die drukking van die watertoevoer na wense kon kry ná die vier lekplekke herstel is, en besinkdamme by die Riverton-suiweringsaanleg opgeknap is nie.
Ingevolge die herstelplan sou die toevoer vanaf Donderdag 4 April om 18:00 tot Maandag 8 April om ongeveer 18:00 vir herstelwerk afgesluit wees. Die watertoevoer is weens die bykomende lekplek wat ontstaan het eers op Maandag 15 April weer aangesluit.
Die ontdekking van die vyfde groot lekplek het gekom nadat amptenare bepaal het dat die drukking in die 600 mm-deursnitpyplyn na wense is, maar nie die drukking in die 900 mm-pypleiding nie.
Matala het gesê dit lyk of die waterdruk die Gogga-uitlaatklepkamer op die pypleiding laat ineenstort en op die pypleiding geval het. ’n Gedeelte van die pypleiding is afgesluit om die lek te herstel. Die water moes eers weggepomp word om die omvang van die skade te bepaal, waarna die herstelwerk sou kon begin.
“Die erge reën het die herstelwerk wel vertraag. Ons moes in gietende reën werk. Vroeër is die skoonmaak van die besinkdamme en herstelwerk aan die skrapers ook weens reën later as beplan voltooi.
“Uiteindelik is die water wat nou by Riverton gesuiwer word, van die hoogste gehalte. Dit is fantasties,” het hy gesê. “Die besinkdamme is nou so skoon asof dit nuut is en die filters word nie met vuilis blokkeer nie. Die gehalte en die kwantiteit water is nou uiters goed.”
‘Lesse geleer, onderling van mekaar geleer’
Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder, sê die Newton-opgaardamme is besig om gevul te word.
“Ons gaan ’n verslag saamstel oor die oorsake van die jongste lekplek wat by die Gogga-uitlaatklep ontstaan het, sodat die probleme nie weer gebeur nie. Ons het lesse geleer en almal het onderling van mekaar geleer. Ons het kennis en ervaring uitgeruil.
“Een van die lesse is dat goeie koördinasie en kommunikasie nodig is om seker te maak al die dele van die stelsel is gereed wanneer groot hoeveelhede water deur die pypleiding gestuur word.”
Dit is egter moeilik om Kimberley se ware waterverbruik te bepaal weens die hoë aantal watertenks by huishoudings wat ook gevul word. By Riverton is die daaglikse produksie na byna 100 megaliter gesuiwerde water verbeter.
“Ons moet Ekapa-myn en al die ander Kimberley-besighede, die konsultante en ons eie personeel bedank vir hul harde werk, en inwoners vir hul geduld,” sê Mothibi.
Hy sê die herstelwerk by die Riverton-aanleg en op die grootmaatwatertoevoerpypleiding duur voort ingevolge die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI) van R2,5 miljard.


