Dr. Zamani Saul, Noord Kaapse ANC-leier, praat by ’n kerkdiens van die Gereformeerde Griekwa-kerk in Roodepan waar hy lede probeer oortuig om vir die ANC in die tussenverkiesing te stem.

Foto: Skermgreep Credit: SYSTEM

Met die ANC wat 33 van die 65 setels in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley hou, word die komende tussenverkiesing op 22 Februarie in wyk 1 as ’n “hoë risiko verkiesing” deur ingeligtes bestempel.

Die ANC, DA en Patriotic Alliance (PA) voer sterk veldtogte in dié wyk wat uit gedeeltes van Roodepan en Platfontein bestaan. Die tussenverkiesing is ná die dood van Annie Gallant, ANC-raadslid, genoodsaak.

Die regerende party sit op ’n naaldpunt. In die 2021 plaaslike verkiesing het hy 40,71%, die DA 35,99% en die PA 11,06% van die stemme op hulle getrek. Indien die ANC dié wyk afstaan (wat deur die DA in die 2016 plaaslike verkiesing gewen is), verloor hy sy meerderheid en beheer oor die munisipaliteit. Intussen het die PA samewerking met die ANC verwerp en voer hulle ’n sterk veldtog, soos die DA ook doen.

Opposisiepartye meen die beurtkragkrisis en gevolge daarvan dra tot die ANC se probleme by.

Die DA slyp hul tande om die ANC se greep te verswak en in koalisieregering saam te werk. Harold McGluwa, DA-leier, sê die ANC is met rede bekommerd.

“Hulle weet hoe gefrustreerd mense met diensprobleme is. Inwoners is desperaat en moeg vir leë beloftes terwyl armoede, lewenskoste en werkloosheid toeneem. Kimberley se paaie is vol slaggate, daar is rioolprobleme in Roodepan en swak watertoevoer in Platfontein. Vinnige maar swak herstelwerk los nie probleme op nie.

“Die tussenverkiesing is ’n goue geleentheid om van die ANC ontslae te raak en verandering te bring. Die vuil en verwaarloosde stad kan omgekeer word. Ander tussenverkiesings soos in Kareeberg bewys DA-steun neem toe. Mense moenie vir kleiner partye stem en die stemme verdeel nie.”

Nog ’n uitdaging is die ANC se verlies aan provinsiale ondersteuning van die PA, sy nasionale koalisievennoot. Die PA het volgens ’n ingeligte ’n “sterk kandidaat” vir die verkiesing aangewys wat teen die ANC- en DA-kandidate gaan staan. Die PA het inwoners ook gehelp om ID-dokumente te bekom om as kiesers te registreer.

Die ANC plaas byna daagliks video’s en foto’s op sosiale media van sy weke lange, intense veldtog waarin partylede, uitvoerende komiteelede en die voorsitter kiesers wil oortuig.

Verlede Sondag het dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse ANC-voorsitter en Noord-Kaapse premier, vir Ferguson Moses as wykskandidaat en Alene Bosman as hul nuwe proporsionele kandidaat aan die Gereformeerde Griekwa-kerk in Roodepan voorgestel.

In sy Afrikaanse toespraak het Saul gesê sewe ANC-partyleiers was ook kerklikes en dat die party in ’n kerk gestig is. Op sy beurt het Moses die “premier bedank vir die skenking wat hy aan die kerk” gedoen het. Hy het gesê die ANC is lief vir die kerk en die lede versoek om vir die ANC te stem. Die gemeente het daarna vir die ANC-afvaardiging gebid.

Intussen het Gayton McKenzie, PA-leier, voorverlede week in ’n aanlyn-uitsending gesê hy onttrek alle steun aan die ANC. Partylede oor die provinsie heen sal binne “drie minute uitgeskop word” indien hulle die ANC in enige munisipaliteit ondersteun.

McKenzie neem die ANC kwalik omdat hulle Marlon Daniels, PA nasionale voorsitter, ondanks ’n ooreenkoms nie ’n posisie op die Sol Plaatje-burgemeesterskomitee gegee het nie. Daniels is afgevaardig om te verseker “dat mense werksgeleenthede kry. Ons het so ’n goeie koalisie in die Noord-Kaap met die ANC gehad, maar dit is verby.”

In die Karoo Hoogland-munisipaliteit het die DA vroeër ’n mosie van wantroue teen die PA-burgemeester en die PA-speaker ingestel.

“Deur buite stemming te bly, het die ANC eintlik die DA en VF Plus teen ons ondersteun,” sê McKenzie. “Dit terwyl ons ter wille van die ANC in die Hantam- en Kgatelopele-munisipaliteit gestem het. Die ANC het intussen weer ’n mosie van wantroue in die DA-burgemeester en VF Plus-speaker ingestel. Enige PA-raadslid wat die ANC hierin ondersteun sal as partylid verwyder word.”

Die ANC het die mosie wat op 23 Januarie sou plaasvind, laat vaar.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-universiteit, sê die situasie weerspieël ook in ander munisipaliteite in die land.

“Die verwikkelinge in Kimberley is interessant vanweë die nasionale ooreenkoms tussen die PA en die ANC. Indien die ANC nie die tussenverkiesing wen nie, sal hulle moontlik ’n alliansie met die PA aangaan. Die ANC is egter nie goed met koalisies nie. Ons is in ’n tyd van fundamentele verandering. Die ANC is landwyd besig om steun te verloor. Hulle kan moontlik nie die nasionale verkiesing in 2024 met ’n volstrekte meerderheid wen nie, en kan moontlik ook die Noord-Kaap verloor.”
Prof. André Duvenhage

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article