Kimberley-skrywer se debuutroman ‘stilistiese les’ vol lewenswyshede

Rencia van Blerk met haar debuutroman, Afdraai na Annabel.

Foto: Helena Barnard

“Sy maak toe ’n totale boggerop van die pannekoektafel. Vir weke skinder die tannies agter haar rug oor die klein wins wat hulle tafel gemaak het, vir die eerste keer sedert die gemeente se stigting. ’n Predikantsvrou wat nie pannekoek kan bak nie. Verbeel jou.” (bl. 26).

Rencia van Blerk se Afdraai na Annabel is ’n indrukwekkende debuutroman oor universele temas sonder om voorspelbaar te wees. Dit is ’n stilistiese les en ’n inspirasie vir enige aspirantskrywer.

Só beskryf Gert Hanekom, ’n dosent in Afrikaans aan die Fakulteit Opvoedkunde by die Sol Plaatje-universiteit (SPU) in Kimberley, dié eerste boek van Van Blerk.

Hanekom was vroeër in Mei die gespreksleier tydens die boekbekendstelling by die SPU waar Van Blerk ’n aflosdosent in Afrikaans aan dieselfde fakulteit is.

“Afrikaans kan hom maklik tot soetsappigheid verleen, en Rencia kry dit baie goed reg om dit te vermy,” sê Hanekom.

Afdraai na Annabel is op 24 Maart tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn by The Beans Café deur Turksvy Uitgewers bekendgestel.

Van Blerk het dié debuutroman aan die einde van 2021 voltooi as deel van die afhandeling van ’n MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Met die voltooiing hiervan was sy vasbeslote om dit te publiseer, maar gedurende 2022, as waarnemende hoof aan die Kimberley Girls’ High School (KGHS), het sy nie daarby uitgekom nie.

Dit was eers in 2023 dat sy kans gekry het om uitgewers te nader.

Die roman handel oor Annabel, wat in Warrenton bly. Ná ’n ramp haar tref, besluit sy om ’n reis aan te pak.

Sy hak die karavaan en saam met haar hond, Wolf, ry sy agter- en grondpaaie deur die Noord-Kaap. In haar reis deur dorpe soos Britstown, Loxton, Fraserburg, Williston en Brandvlei, oornag hulle meestal in die karavaan voor ’n kerk, en ontmoet sy mense wat haar van die lewe leer.

Gaan Annabel vrede met haar vrese maak; sielerus kry oor haar selfverwyt; en bowenal hoop – en haarself – vind?

Rencia van Blerk en Gert Hanekom, gespreksleier, tydens haar boekbekendstelling by die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley.

Karakter besluit self oor haar koers

Van Blerk vertel dat sy lank reeds die storie in gedagte gehad het. Die hoofkarakter se naam was van die begin af Annabel, en haar hond se naam Wolf.

Wyshede, van onder meer die karakter ouma Kitty, weef dwarsdeur die storie en gee dit ’n vaste struktuur.

“Belowe my, jy sal altyd na die son toe loop sodat jou skaduwee agter jou val. Die maklike pad is nie noodwendig die regte een nie, veral nie vir jou nie,” sê ouma Kitty aan Annabel (bl. 45).

Ongeag Van Blerk se beplanning van die roman, het die storie soms ’n paar afdraaipaaie van sy eie gevat. Só het sy beplan dat Annabel die karavaan sou hak en Glentana toe ry.

“Op ’n dag, terwyl ek aan die skryf was, het ek vir my man gesê Annabel wil nie meer Glentana toe gaan nie; sy gaan nou deur dele van die Noord-Kaap ry.”

Die beginpunt van die boek is dat almal trauma het en Annabel moes deur vlakke van trauma werk voor die boek sy oop einde op Verneukpan kry.
Rencia van Blerk

Elemente, onder meer vere en vuur, speel ’n sterk rol, asook gewone mense wat vir Annabel iets van die lewe vertel.

Tydens die boekbekendstelling in Kimberley het Van Blerk vertel dat Annabel se spiritualiteit van vere uit haar kinderjare kom toe ouma Kitty gesê het: “Elke keer as jy ’n veer sien, is dit ’n engel. Jou engel wat voor jou loop.” (bl. 37).

Omdat daar ’n kontras tussen die eerste en die laaste vuur in die boek was, het Van Blerk ’n sirkel van voltooiing met dié element getrek, en gewys dat vuur vernietigend én helend kan wees.

Een van die temas wat vir Hanekom in die roman uitstaan is dié van bevryding uit ’n rol of ’n lewe waarin jy nie werklik pas nie.

“Almal van ons lewe in ’n mate ingeperk,” sê hy.

Hy noem dat Annabel haarself bevraagteken; soos ons elkeen wat ’n basislyn van skuldgevoelens het:

“Sy wonder of kinders ’n verskil sou maak. Weke voor die brand het sy gedink sy hou nie meer van Dawid nie. Skuldgevoelens? Verligting?” (bl. 14), en “Verwyt is ’n spookpyn. ’n Mens raak mettertyd gewoond daaraan, net soos aan ’n vratjie op jou hand.” (bl. 96).

Rencia van Blerk se debuutroman, Afdraai na Annabel.

Lewenswyshede in storie geprys

Om oor twee jaar deeltyds dié MA-graad, onder leiding van prof. Henning Pieterse en dr. Francois Smith te doen, en heeltyds as waarnemende hoof op te tree, was nie sonder uitdagings nie.

“Teen Augustus 2021, in my tweede jaar van die graad, het ek gevoel dat ek hierdie manuskrip nie gaan kan afhandel nie,” sê Van Blerk.

“Maar my man, Marius, het my geweldig ondersteun, en vir twee jaar aanmekaar gebid”. Sy het ook net lof vir haar destydse kollegas by die KGHS wat haar besonder ondersteun en goed “voor gevat” het wanneer sy sommige Vrydae klasse en besprekingsessies in Bloemfontein moes bywoon.

“Ek beskou myself nie as ’n natuurlike skrywer nie. Ek is ’n taalonderwyser wat skryf; skryf is my kreatiewe uitlaatklep.”

Die besprekingsessies by die UV was uiters waardevol en ’n goeie klankbord in ’n akademiese veld. Vir Henning en Smith beskryf sy as “ongelooflike begeleiers”.

In skeppende proses is jy op jou eie
In dié omgewing het haar ontwikkeling as skrywer uiters gebaat; en in die afgesonderde ruimte voor haar rekenaar het sy besef dat ’n mens met die skeppende skryfproses op jou eie is.

Van Blerk begin skryf met vae beelde in haar gedagtes wat mettertyd helderder word. In Britstown het die karakter Dawina vanself verskyn, en van die ander karakters was “bits and pieces” en kombinasies van ander.

Nadat Van Blerk besef het Annabel wil deur die Noord-Kaap reis, het sy haar met die roete “gehelp”; op die kaart gekyk en plekke met grondpaaie gesoek wat sy as skrywer self geken het.

“Annabel het die Noord-Kaap gekies omdat dit is waar ’n mens alleen of eensaam kan wees.”

So moes Van Blerk ook vir Annabel lei om haar interne konflik deurlopend te behou, sonder om in ’n wroegende en dweperige karakter te ontaard.

“My doel was ’n lekkerlees-roman met wyshede,” sê Van Blerk.

’n Teenwoordige by die boekbekendstelling het haar geprys vir die “ouwêreldse wyshede”, maar ook jong, hedendaagse lewenslesse wat sy gebruik het.

Hierop het Van Blerk geantwoord dat van die wyshede van die karakters self afkomstig is, terwyl ander wyshede toe eers ’n stem gekry het.

Só het die Dawina aan Annabel vertel: “Kinners is nie gom nie, hulle fix nie wat gebreek is tussen ’n man en ’n vrou nie. Sleg kan ook nie sommer goed raak nie. Better on your own, as together saam met no good.” (bl. 154).

Net so het die karakter oompie Laars sy wyshede gedeel: “My Miempie het altyd gesê as jy ’n vrou seermaak, sny jy ’n aalwyn. Haar trane drup taai en stadig die bitterheid uit. Daai trane is medisyne, maar ons manne krop al die gal op, g’n woner ons kry galstene nie.” (bl. 183).

’n Ander het genoem dat Van Blerk lewens aanraak met haar universele temas in die boek. Nog een is verheug dat die Noord-Kaap die agtergrond is; dié grootste provinsie wat gereeld van vergeet word.

‘Verwerk emosies in opstelle’

Van Blerk hou van ’n boek in die hand, eerder as ’n elektroniese toestel en lees om haarself te verryk.

“As ek ’n boek lees, moet dit vir my as mens iets beteken, al stem ek nie saam nie.”

In haar 17 jaar by ’n meisieskool het sy opgemerk dat van die meisies baie keer in hul vrye tyd lees; en dat daar steeds ’n groep is wat in boeke belangstel.

In haar Afrikaanse klasse het sy gereeld boeke en lees met Afrikaanse musiek van onder meer Refentse en Koos du Plessis kombineer. Sy glo daar is geweldig baie geleentheid vir nuwe skrywers, veral met die oog op jeugdiges, ook op studentevlak.

Opstelle skryf help emosies verwerk
Sy het ook gevind dat kreatiewe skryfwerk, soos ’n opstel, ’n manier is waarop ’n kind eerlik kan wees en emosies kan verwerk.

Van Blerk sal altyd probeer om ander se spelling te verbeter, maar glo terselfdertyd dat elke dialek sy plek het, en dat taal daar is om te gebruik.

“Ek dink gesinne moet meer hul TV’s en selfone afskakel; as pa en ma lees, dan lees kinders ook.”

Oor haar studente aan die SPU sê sy hulle is duidelik lief vir Afrikaans, en positief oor die taal.

“Lees is een van die beste maniere om te leer hoe om te skryf, en om dinge in ’n ander lig te sien. Jy moet jou brein oefen,” gee Van Blerk raad aan voornemende skrywers.

“Skryf oor wat vir jou outentiek is. Ons het almal ons eie stem; moet jouself nie forseer om te skryf om soos iemand anders te klink nie.

“Bowendien, ’n mens is nooit te jonk of te oud om ’n boek te skryf nie.”

Idees soos skilpadeiers

Om oor kreatiewe skryfkuns te leer, was nog altyd op Van Blerk se wenslysie, maar vir meer as drie dekades het sy eers hoërskoolleerlinge in Afrikaans onderrig.

Van Blerk, oorspronklik van Jan Kempdorp, het haar matriekjaar in 1985 aan die Hoërskool Vaalharts voltooi en daarna ’n BA- en honneursgraad in Afrikaans en Nederlands (met lof) aan die UV verwerf. Sy het haar loopbaan as onderwyser in 1991 by die Hoërskool Adamantia in Kimberley begin, waar sy vir tien jaar skool gegee het. Daarna was sy onder meer by die Hoërskool Noord-Kaap en St Patrick’s CBC, en daarna vir 17 jaar by die KGHS. Hier was sy ook adjunkhoof, en in 2021 en 2022 die waarnemende hoof.

Rencia van Blerk

Die publikasie van haar eerste boek voel vir Van Blerk nog bykans onwerklik.

“Ek voel klein en nederig; ek kom van ’n klein dorpie op die platteland, maar hier is my boek. Die afhandeling van die manuskrip gaan nie oor my nie; dit gaan daaroor dat daar aan die einde hoop moet wees.”

Soos Antoinette Pienaar dit stel, is haar idees vir manuskripte soos om skilpadeiers te begrawe, en aan te loop. Af en toe gaan jy weer daar verby, en kyk en luister of een gereed is om uit te broei.

Intussen droom sy daarvan dat haar manuskrip moontlik ’n rolprent kan word.

  • ’n Boekbekendstelling wat deel vorm van die lesingsreeks deur die Departement Afrikaans en Nederland, Duits en Frans aan die UV, vind op 11 Junie van 17:00 tot 19:00 in die Kotzé-kunsgalery in Bloemfontein plaas. Drie boeke wat voortvloei uit die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns word bespreek, waarvan Afdraai na Annabel een is. Die ander is Kinderlê deur Lynthia Julius en Op die kantlyn deur Marnus Kok. Antwoord teen 3 Junie by meiringi@ufs.ac.za.
  • Van Blerk gaan op 4 Julie om 13:00 tydens die Vrystaat Kunstefees se Litfees in Bloemfontein optree, en oor haar debuutroman met Angelique van Niekerk as gespreksleier gesels. Dit vind in die Simonsvlei-tent plaas, en die gesprek duur 60 minute.
  • Kontak Van Blerk by vanblerkrencia@gmail.com om haar boek teen R240 aan te skaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article